QBR verras Naka Bulle, Impala terug op die wenpad
Die afgelope naweek se aksie in die Volcanobeker interprovinsiale klubtoernooi het ‘n paar verrassings opgelewer, terwyl Tuks steeds die enigste onoorwonne span in die toernooi bly.
Die afgelope naweek se aksie in die Volcanobeker interprovinsiale klubrugby-toernooi het twee verrassings opgelewer.
Net toe Klubrugby liefhebbers die nasionale Gouebeker kampioen, Rustenburg Impala wou afskryf ná hul sukkelvertonings in die eerste vryf rondtes van die liga, het hulle Saterdag teruggebons en Centurion op laasgenoemde se tuisveld kom klop.
Quins-Bobbies (QBR) het ook verskeie terugslae van die afgelope tyd oorkom en een van die gunstelinge in die reeks, ABE Midas Naka Bulle, op hul tuisveld in die Moot pak gegee.
* Centurion se skopwerk na die pale is gewoonlik een van hul sterkpunte, maar Saterdag was dit die een aspek wat hulle in die steek gelaat het en die verskil was tussen wen en verloor teen Impala.
Impala het die wedstryd met 22-15 gewen, hoewel albei spanne drie keer agter die doellyn gaan kuier het.
Die manne uit Noordwes se skopwerk het aan hulle sewe ekstra punte (twee doelskoppe en ‘n strafdoel) gegee, terwyl Centurion nie met ‘n enkele skop na die pale kon slaag nie.
* In Wonderboom-Suid het QBR daarin geslaag om slegs hul tweede oorwinning van die toernooi te behaal toe hulle ABE Midas Naka Bulle op hul tuisveld met 48-43 geklop het.
Hoewel die wedstryd as ‘n skouspelagtige drieë-fees uit ‘n toeskouersoogpunt beskou kan word, sal albei spanne se afrigters waarskynlik ontevrede wees met hul spelers se verdediging in dié kragmeting.
Albei spanne het ses keer gaan druk. QBR se puik jong losskakel, Hendrik Mulder, het sy terugkeer na die span gevier met ‘n skerpskutter vertoning deur al ses die drieë te verdoel én boonop twee strafdoele deur die pale te jaag. Daarby het Mulder boonop een van sy span se drieë gedruk, wat aan hom waarskynlik ’n man-van-die-wedstryd vertoning besorg het.
QBR het die tuisspan verras met hul reuse aanslag van die eerste afskop af en teen rustyd was hulle reeds 38-21 voor.
Luga van Biljon en sy manne het dapper teruggeveg en die tweede helfte oorheers, maar die manne uit Groenkloof kon hul voorsprong behou om vir die grootste verrassing van die naweek te sorg.
* Nico Luus se Tuks-span het weer gewys dat die span wat vanjaar die gesogte Volcanobeker ophoog wil hou, eers by hulle verby sal moet kom. Hulle het East Rand United, wat verlede week so byna met Centurion afgereken het, maklik met 69-7 oorrompel.
Tuks het op hul tuisveld hul gebruiklike skouspelagtige hardlooprugby opgedis en daarmee elf drieë ingeryg. Daarteenoor het die manne van die Oos-Rand slegs een drie gaan druk.
ERU het in die eerste helfte nog probeer om weerstand te bied, maar Tuks het in die tweede skof die krane oopgedraai en hul teenstanders uit Reigerpark kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.
* Springs het weer bevestig dat hulle ernstige aanspraakmakers in hierdie toernooi is, toe hulle die Gouebeker semi-finalis, Northam Rhinos, in ‘n klipharde en taai stryd met 24-20 geklop het.
Net soos Centurion, het Northam se skoppers hulle verhoed om die oorwinning te beklink, aangesien die manne uit Limpopo vier drieë teen Springs se drie gaan druk het. Drie doelskoppe en ‘n strafdoel het Springs in staat gestel om voor hul tuisskare hul vierde oorwinning in die reeks te behaal én hulself tussen die top vier op die punteleer te posisioneer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






