Local sportSport

Herhaling van eerste rondte se uitslae by draaipunt van Volcanobeker toernooi

By die halfpadmerk van die nuwe Volcanobeker interprovinsiale klubrugby toernooi is slegs Tuks nog onoorwonne en teoreties kan al die spanne nog vir die halfeindrondte teen die einde van Augustusmaand kwalifiseer.

In ’n vreemde sameloop van omstandighede is die bepalings van die eerste week van die Volcanobeker interprovinsiale klubrugby toernooi reeds in die afgelope Saterdag se sewende week herhaal.

Saterdag se uitslae het – ten opsigte van wenners en verloorders – uiteindelik ook presies dieselfde verloop as daardie eerste week se skouspel op Loftus Versfeld.

Dit beteken natuurlik dat die groot verrassing van die naweek wéér Springs se oorwinning oor ABE Midas Naka Bulle was – hierdie keer op laasgenoemde se tuisveld in die Moot.

– Hoewel die telling darem nie so groot was soos in daardie eerste wedstryd se slagting nie, het Tuks Saterdag weer met groot gemak die Nasionale Gouebeker kampioene kafgedraf.

Tuks het 10 drieë gedruk om op hul tuisveld vir Rustenburg Impala met 68-22 te klop.

Die manne van Noordwes is egter stadig maar seker besig om te herstel nadat hulle byna die helfte van hul beste spelers verloor het sedert die Gouebeker finaal op 14 pril vanjaar. Met veterane soos Johnny Welthagen (losskakel), Tiaan Nel (slot) en Koos Strauss (vaskopstut) terug in die span, is dit net ‘n kwessie van tyd en fiksheid voordat ervaring dié span weer ’n groter faktor in die tweede helfte van die reeks gaan maak.

Tuks stoom egter voort en op hierdie stadium lyk dit nie of enige van die ander spanne in die reeks ’n bedreiging vir Nico Luus se manne inhou nie. Die studente het min swakplekke en word werklik goed afgerig. Hul resep is eenvoudig, maar baie effektief en wentel om kragrugby voorlangs, wat gekomplimenteer word deur vinnige, vaardige agterspelers wat meesterlik georkestreer word deur ‘n ervare losskakel wat wéét wat hy doen.

– Springs het in Wonderboom-Suid op ABE Midas Naka Bulle se tuisveld weer gewys dat hulle ernstige kandidate vir die halfeindrondte van die toernooi op 31 Augustus is.

Hoewel beide spanne elk drie keer agter die doellyn kon gaan kuier het, was dit weer die akkurate skopvoet van Springs se heelagter, André Smith, wat die wedstryd in hulle guns beklink het. Hy het met ’n doelskop en vier strafdoele geslaag om die eindtelling op 29-25 in die Oos-Randers se guns te staan te bring.

Die vertoning van Marinus van der Watt (een van die beste afrigters in Suid-Afrikaanse klubrugby) se span is vir hul vele lojale ondersteuners tot dusver ietwat van ’n enigma. Dié span beskik oor heelwat meer diepte as ’n klub soos Springs, soos wat die uitslae van Saterdag se tweede- en derdespan wedstryde duidelik bewys. Naka Bulle se tweedes het maklik met 50-14 gewen en Springs se derdes het punte gegee (tegnies 40-0 verloor), omdat hulle nie ’n volledige span in die veld kon stoot nie.

Tog het ABE Midas Naka Bulle se eerstes, wat wemel van spelers wat goed genoeg is vir Curriebeker rugby, vir die tweede keer teen Springs verloor. Selfs die teenwoordigheid van die Springbok flank, Jacques Potgieter, wat van die bank af vir ABE Midas Naka Bulle opgedraf het, kon hul nederlaag nie keer nie.

Dié span se grootste probleem is waarskynlik dat hulle sukkel om kohesie en momentum te bou. Weens logistieke kwessies en beserings kon Van der Watt nog nie twee weke na mekaar dieselfde span as die vorige week in die veld stoot nie.

Centurion moes weer hard werk om die Gouebeker semi-finaliste, die Northam Rhinos, met 24-21 te klop.

Riaan Brand se manne het egter vir ’n tweede keer vanjaar daarin geslaag om die Bosvelders se neuse in die grond te vryf met drie drieë teenoor twee. Daarmee het Centurion daarin geslaag om hulself halfpad deur die toernooi stewig in die tweede plek op die punteleer te vestig.

Die manne uit Pretoria se suide het – weens die vreemde wedstrydbepalings – nog nie teen Tukkies gespeel nie en sal dus in die tweede rondte (wat ná die langnaweek op 22 Junie begin) twee keer die studente moet trotseer.

Quins-Bobbies speel steeds puik, positiewe rugby en daarmee het hulle wéér daarin geslaag om die Valke se ander deelnemer in die liga, East Rand United, met 54-39 te klop.

Soos die geval was toe dié twee spanne mekaar in daardie eerste wedstryd op Loftus Versfeld gepak het, het Saterdag se wedstryd op QBR se tuisveld in Groenkloof aanskoulike rugby en baie drieë opgelewer.

Die tuisspan het agt keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl die manne uit Reigerpark in Boksburg ook ‘n bonuspunt verdien het vir hul vyf drieë.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button