Bulletjies neem Loftus weer oor
Die 26e amptelike Bulletjiedag is weer die afgelope naweek op Loftus Versfeld aangebied en meer as 6 000 aspirant rugbysterre was deel van die aksie.
Die Blou Bulle Rugby-unie se jaarlikse Vodacom Bulletjierugby dag op Loftus Versfeld het vanjaar meer as 6 000 jong Bulletjies – én heelawat meer verskalfies as in die verlede – na Loftus se B-, C- en D-velde gelok.
Hierde rugbyfees het Saterdag reeds sy 26e verjaardag herdenk en dis waarskynlik die grootste jeugrugby-toernooi van sy soort in die wêreld.
Die deelnemende jong rugbyspelers tussen die ouderdomme van 6 en 9 is hierdie jaarlikse geleentheid ‘n hoogtepunt op hul rugby-kalender, want dis die dag waarop hulle die geleentheid kry om self hul vaardighede te wys in die skadu van die legendariese Loftus Versfeld stadion se suid-paviljoen.
Die feestelike atmosfeer van die Bulletjiedag word vergroot wees die feit dat sowat 20 000 ondersteuners saampak rondom die verkleinde rugbyvelde waarop die seuns in aksie is. Dis ‘n gesinsdag en ouers, grootouers en ander familielede daag in hul duisende op om die jong sterre aan te moedig.
Tot by die onder-9 ouderdomsgroep speel die seuns nie kontakrugby nie. Hulle word dus nie op dié jong ouderdom aan ernstige beserings blootgestel nie.
Elke speler kry twee materiaalstroke wat met die hulp van ‘velcro’ aan hul heupe geheg word. Verdedigers moet dan een van hierdie stroke van die aanvaller se heupe afruk, waarna hy onmiddellik die bal moet uitgee. Geen speler sonder albei sy materiaalstroke aan sy lyf mag dus ’n drie gaan druk nie.
Die twee spanne wat meeding se afrigters word ook saam met die skeidsregter op die verkleinde speelveld toegelaat om die seuntjies leiding te gee. Die speelveld is ongeveer een agtste van ‘n standaard rugbyveld.
Ander vermaak vir oud en jonk was ook oudergewoonte deel van die Bulletjiedag. Kos- en koeldrankstalletjies het fluks besigheid gedoen, terwyl ’n speelpark met springkastele en ander speletjies soos skyfskiet ook sommige van die kinders besig gehou het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie



