QBR en Tuks wen elk ’n titel in Bulle se onder-20 ligas
Saterdag se eindstryde in die onderskeie Volcano onder-20 klubrugby ligas het vir spanning, drama én skitterende rugby op Loftus Versfeld gesorg.
Een vir my en een vir jou. Dít is hoe die afgelope Saterdag se eindstryde van die Blou Bulle se onder-20 klubligas verloop het.
In beide eindstryde van die twee afdelings (Volcano onder-20 Beker-liga en Volcano onder-20 Trofee-liga) het spanne van Tuks en Quins-Bobbies (QBR) teen mekaar te staan gekom. Uiteindelik het dié twee klubs beurte gemaak om die vonkelwyn proppe te laat klap.
Die jong spelers het Saterdag die geleentheid gekry om op Loftus Versfeld in die stadion as voorwedstryde vir die SuperRugby wedstryd tussen die Bulls en die Lions uit te draf om die onderskeie kampioenspanne te bepaal.
Beide wedstryde het uitstekende rugby opgelewer. Die jongmanne was nie skaam om die bal lug te gee nie en albei hierdie eindstryde het skitterende hardlooprugby met skouspelagtige drieë opgelewer.
Danksy ’n bepaling van die Blou Bulle Rugby-unie het verskeie gekontrakteerde juniors van die Blou Bulle se professionele spelers aan die liga deelgeneem. Albei die eindstryde se uitslae was ook tot in die laaste sekondes in die weegskaal, wat die standaard van die ligas onderstreep. Daarbenewens het die tegniese kwaliteit van die rugby wat gespeel is in hierdie twee wedstryde die top standaard van afrigting in die ligas beklemtoon.
Hierdie nuwe onder-20 klubligas sal hopelik van krag tot krag gaan en daar word algemeen verwag dat klubrugby in die toekoms ook op senior vlak by hierdie nuwe junior ligas se formaat sal baatvind, aangesien baie meer puik jong spelers daardeur aan klubrugby blootgestel word.
Een van die redes waarom die ligas reeds in Juniemaand afgehandel word is die feit dat selfs spelers wat nie by die Blou Bulle gekontrakteer is nie, moontlik vanuit hierdie ligas die geleentheid kan kry om vanjaar op junior vlak provinsiale rugby te speel. Die grootste groep sal betrokke wees by die onder-19 en onder-21 spanne van die Limpopo Blou Bulle in die B-afdeling van die junior provinsiale ligas. Sommige spelers sal ook die geleentheid kry om vir ander unies soos die Pumas en Valke se junior Curriebeker spanne te speel.
– In die eerste wedstryd waarin die kampioen van die Volcano onder-20 Trofee-liga bepaal is, het Tuks se onder-20 Pumas hul stryd teen QBR se Mambas met 38-25 gewen.
Dié eindtelling kan effens misleidend wees, aangesien die wedstryd wipplank gery het tot kort voor die eindfluitjie en QBR se Mambas sowat tien minute voor die eindfluitjie nog met 25-24 voorgeloop het.
’n Onderskepdrie deur Tuks se binnesenter, PG Jansen van Vuuren, het die skaal egter tien minute voor die einde laat swaai.
Hoewel die QBR Mambas daarna alles ingesit het om die wedstryd te probeer wen, het Tuks se Pumas daarin geslaag om in die doodsnikke weer te gaan druk om die oorwinning te beklink en as kampioen gekroon te word.
– Die eindstryd van die A-afdeling (Volcano onder-20 Beker-liga) was ook ’n titaniese stryd tussen twee spanne wat tot in die laaste sekondes geveg het om dié titel.
Tuks se Young Guns het eerste punte aangeteken en aanvanklik gevaarlik gelyk, maar QBR se Kobras het gou teruggeveg en teen rustyd was hulle met 27-14 voor.
Na die breuk het die studente teruggeveg en op ’n stadium die telling laat krimp tot 27-24, maar twee drieë deur die QBR Kobras het hul voorsprong weer vergroot.
Die Young Guns wou steeds nie besgee nie en met nog twee drieë het hulle die punteverskil laat krimp na 39-36. Die laaste twee minute het vir byna onhoudbare spanning gesorg toe Tuks se Young Guns twee keer kantlyn te geskop het ná strafskoppe om eerder die wedstryd te probeer wen as om ekstra tyd af te dwing met ’n gelykop uitslag.
QBR se Kobras het egter vasgebyt met desperate verdediging en toe die eindfluitjie blaas kon hulle feesvier as die nuwe kampioen en die Blou Bulle se beste onder-20 klubspan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie



