Tuks wen Lucas Strachan-skild op ‘n drafstap
Tuks se onoorwonne rekord in die Carltonbeker toernooi, wat gelyktydig saam met die Volcanobeker klubrugby toernooi gespeel word, het aan hulle die afgelope naweek die Lucas Strachan-skild as voorlopers ná die eerste rondte besorg.
Terwyl Nico Luus se Tuks span die afgelope naweek hul onoorwonne rekord in die Volcanobeker klubrugby toernooi redelik maklik teen Centurion gehandhaaf het, kon hulle ook as voorlopers ná die eerste rondte van die Carltonbeker toernooi die Lucas Strachan-skild in ontvangs neem.
Die Carltonbeker toernooi vind gelyktydig met die Volcanobeker reeks plaas. Slegs statistiek ten opsigte van wedstryde tussen die vier deelnemende Carltonbeker klubs kom in aanmerking vir hierdie toernooi.
Met hul oorwinning oor Centurion het Tukkies seker gemaak dat hulle volpunte in al drie hul eersterondte-wedstryde teen die ander drie Bloubul klubs kry.
Net soos verlede seisoen sal daar vanjaar weer nie ’n eindstryd in die Carltonbeker toernooi plaasvind nie. Dit beteken dus dat Tuks bitter moeilik gestuit gaan word in hul opmars om wéér die Carltonbeker kampioen te word. Dit sal beteken dat Tuks in die tweede rondte ten minste twee keer teen plaaslike klubs moet verloor, terwyl een van die ander klubs onoorwonne in die tweede rondte van dié toernooi sal moet wees.
– Soos dit gereeld gebeur wanneer Tuks se geoliede masjien groot oorwinnings teen ander klubs behaal, kan die reuse telling in Saterdag se sege van 73-21 teen Centurion misleidend wees vir enigeen wat nie die wedstryd gesien het nie.
Hoewel hulle elf drieë gedruk het, moes die studente soms hard werk vir hierdie oorwinning en Centurion was baie beter as wat die telling aandui. Veral voorlangs was daar bittermin te kies tussen die twee spanne. Trouens, Centurion het die grootste deel van die wedstryd voorlangs oorheers – veral in die vaste skrums, waar Cassie Bezuidenhout op vaskopstut gemors het met die studente.
Bezuidenhout se pa, die oud Springbok stut, Christo, se hand kan weer duidelik gesien word in die weeklikse verbetering van Centurion se skrumwerk. Hy werk nou sowat ses maande met dié pak voorspelers en dit begin weer lyk na die Centurion van ouds, wat moeilik voorlangs geklop word.
Tuks het egter – byna soos die All Blacks – die vermoë om op briljante wyse hul teenstanders se foute uit te buit en die drieë dan met teenaanvalle letterlik vanaf enige plek op die veld in te ryg. Dít getuig van puik kondisionering en vaardighede onder die jong studente.
Dit moet ook gemeld word dat Centurion se buite-agterspelers, in teenstelling met hul hardwerkende pak voorspelers, se verdediging soms bloot vrot was en dat meer as die helfte van Tuks se drieë met beter verdediging verhoed kon word.
Ethan Wentzel, Centurion se bloedjong losskakel wat verlede jaar nog op die skoolbanke gesit het, is byna die enigste man wat agterlangs sy kant behoorlik gebring het. Dié jongman lyk na ‘n moontlike ster van die toekoms en in die afwesigheid van Stanley Twiname het hy ‘n blink vertoning gelewer.
– In die Moot het ABE Midas Naka Bulle Saterdag weer op die wenpad gekom toe hulle die Gouebeker semi-finalis, Northam Rhinos, met 35-10 geklop het.
In die proses het ABE Midas Naka Bulle vier drieë gedruk en dus ’n waardevolle bonuspunt op die Volcanobeker interprovinsiale klubtoernooi se punteleer verdien.
Die manne van die Moot, wat weer oor die dienste van die Springbok Jacques Potgieter beskik het, het die stryd voorlangs oorheers en drie van hul vier drieë is deur voorspelers gedruk.
Agter dié puik pak voorspelers het die indrukwekkende jong losskakel, Luke Rossouw, weer sake beheer en net puik verdediging deur die Bosvelders van Northam het meer drieë verhoed.
Met hierdie oorwinning het ABE Midas Naka Bulle weer agter Tuks in die tweede plek op die Volcanobeker punteleer ingeskuif, hoewel slegs ’n beter punteverskil hulle van Centurion onderskei.
– In Groenkloof het Quins-Bobbies (QBR) se wisselvallige seisoen voortgeduur toe hulle teen die nasionale Gouebeker kampioen, Rustenburg Impala, vasgeval het. Die eindtelling was 13-12 in die Noordwesters se guns.
Dit is slegs Impala se tweede oorwinning in die reeks, maar dit wys beslis dat hulle besig is om stadig maar seker weer ‘n gerekende faktor te word ná hul insinking in die eerste paar wedstryde weens die baie top spelers wat die klub verloor het.
Daar was nie veel te kies tussen die twee spanne nie, maar met té veel foute – veral op kritieke tye – bly QBR hul eie grootste vyand in die toernooi.
Beide spanne het twee keer gaan druk en hoewel die oud Luiperd losskakel, Johnny Welthagen, nie een van sy span se drieë kon verdoel nie, was ’n strafdoel deur hom die verskil tussen wen en verloor vir Impala.
– Springs se plek onder die top vier spanne is skielik in gevaar ná hul onverwagse nederlaag teen East Rand United (ERU) die afgelope naweek.
Die manne van Reigerpark in Boksburg het Springs in ’n opwindende wedstryd op hul tuisveld in Reigerpark met 47-34 verras.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie





