Dis weer tyd vir die Garsfontein ‘Ice Breaker’
Die bekende Garsfontein Ice-breaker padwedloop word weer op 6 Julie in die strate rondom die Laerskool Garsfontein aangebied.
Die jaarlikse Garsfontein ‘Ice Breaker’ padwedloop word weer vanjaar deur Wingate Road Runners aangebied.
Hierdie wedloop, wat met die goedkeuring van Atletiek Gauteng Noord (AGN) en die Stadsraad van Tshwane plaasvind, word op 6 Julie aangebied.
Die wedloop het in 2008 ontstaan, wat beteken dat dit vanjaar reeds vir die 12de keer aan padatlete die geleentheid bied om Pretoria se winterkoue te trotseer.
Die Garsfontein Ice Breaker is ’n 21 km halfmarathon, terwyl daar ook ‘n 10km wedloop en ’n 5km pretloop aangebied word vir diegene wat gouer by die warm koffie wil uitkom. Die wedloop word afgehandel deur die boomryke strate van Garsfontein en die wegspring en eindpunt is by die sportgronde van die Laerskool Garsfontein.
Wegspringtye van die onderskeie wedlope is 06:30 vir die 10 en 21 km stap, 07:00 vir die 10 en 21 km draf en 07:15 vir die pretdraf.
Atlete wat deelneem aan die 10km wedloop en die 21km halfmarathon en nié amptelike lede van klubs is nie, kan tydelike lisensies op die dag van die wedloop koop.
Inskrywings van atlete van ouder as 70 is gratis, behalwe vir die aankoop van tydelike lisensies.
Vooraf inskrywings kan gedoen word by www.enteronline.co.za tot 2 Julie, by die Garsfontein NG Kerk te Emmie Hartmannstraat 285 tot 5 Julie 12:00, by Run-A-Way-Sport winkel tot 14:00 op 5 Julie, asook die oggend van die wedloop vanaf 05:30 by die laerskool se sportgronde.
Inskrywings en afhaal van wedloopnommers van voorafinskrywings kan ook op Vrydag 5 Julie tussen 15:00 en 19:00 by die skool gedoen word.
Klubs is welkom om reeds op Vrydag 5 Julie tot 19:00 hul gazebo’s na die skool bring om opgeslaan te word.
Verversingspunte sal elke 3km beskikbaar wees en daar sal ook ‘n veilige toksak area by die beginpunt wees. Parkering is in die strate rondom die skool en sekuriteitswagte sal aan diens wees. Verversings sal ook by die skool se snoepie te koop wees vir atlete en toeskouers.
Alle opbrengste uit die wedloop word vir die uitreike van die NG Gemeente Garsfontein aangewend. Atlete word versoek om gebruikte of nuwe T-hemde te skenk wat aangewend sal word tydens die uitreik programme.
Enige navrae kan gerig word aan Mike 083-414-5938, Claude 083-564-3630 of Natascha 071-688-8024.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
