Fortus Pretoria-Noord se landlopers presteer weer
Die Fortus Atletiekklub in Pretoria-Noord se landloop atlete het weer bewys dat hulle nie hul gelyke het in Gauteng-Noord nie.

Die Fortus Atletiekklub in Pretoria-Noord is lank reeds bekend vir die puik atlete wat uit dié geledere kom.
Dis veral wanneer die landloop seisoen aanbreek, dat Fortus se krag behoorlik na vore kom. Dié klub het vanjaar egter hulself oortref en ’n nuwe standaard gestel toe 60 lede van Fortus opgeneem is in die Atletiek Gauteng-Noord (AGN) landloopspan wat aan die interprovinsiale kampioenskap in Mpumalanga deelgeneem het.
Fortus se verteenwoordiging in die provinsiale span strek oor alle ouderdomsgroepe, wat ook die klub se veelsydigheid bevestig.
Met hierdie groot groep atlete wat provinsiale kleure ontvang het, het Fortus ook hul status as leiers in AGN se landloopkringe gestand gedoen. Geen ander klub kon naastenby dieselfde bydrae tot die provinsiale span maak nie.
Vroue in die kategorie 40+ was die klub se beste presteerders en sewe van Fortus Pretoria-Noord se vroue in dié kategorie het Gauteng-Noord verteenwoordig.
In dié kategorie het twee van Fortus Pretoria-Noord se dames ook podium plekke by die kapioenskap behaal. Corné Prinsloo het die goue medalje ingepalm, terwyl Leandri Claassen kort op haar hakke geëindig het om die silwer medalje te verower.
Die Fortus Pretoria-Noord atletiekklub is gesetel by die Hoërskool Pretoria-Noord en belangstellende atlete is welkom om aan te sluit.
Vir enige ander navrae, kontak Carol Goodinson by 084-874-8180.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
