Pretorianer deel van SA onder-14 meisies se tennis sukses by Junior Afrika kampioenskap
‘n Graad 8 meisie van Hoërskool Menlopark is deel van die Suid-Afrikaanse onder-14 meisies tennisspan wat verlede week die silwer medalje by die Junior Afrika Kampioenskap verower het.
Pretoria se Carlé Botha was verlede week deel van die Suid-Afrikaanse onder-14 meisies tennisspan wat die silwer medalje by die Junior Afrika kampioenskap in Algerië verower het.
Botha, wat vanjaar in graad 8 aan die Hoërskool Menlopark verbonde is, was die enigste Pretorianer in dié Suid-Afrikaanse span.
Met hierdie prestasie het Botha en haar spanmaats gekwalifiseer om volgende maand (5-10 Augustus) aan die Internasionale Tennis Federasie (ITF) se Junior Wêreldkampioenskap, wat in die Tjeggiese Republiek aangebied sal word, deel te neem.
Die Suid-Afrikaanse onder-14 span het die span van Kenia met 3-0 geklop in hul finale wedstryd by die kampioenskap en daarmee het hulle nie net die silver medalje verseker nie, maar ook hul plek by die junior wêreldkampioenskap.
Egipte se onder-14 meisies het eerste geëindig en daarmee ook saam met die Suid-Afrikaners gekwalifiseer om in Augustus aan die toernooi in die Tjeggiese Republiek deel te neem.
Suid-Afrika se onder-14 seuns kon ongelukkig nie vir die Junior Wêreldkampioenskap kwalifiseer nie.
Die Suid-Afrikaners se afrigter, Asnathi Sebati, het ná haar span se sukses gesê hulle het vooraf geweet dat hulle ten minste twee van die spanne uit Noord-Afrika sou moes klop om te kwalifiseer.
“Selfs nadat ons teen Egipte verloor het, het ons by die wedstrydplan gehou en wel daarin geslaag om Marokko te klop. Daardie oorwinnig het ons in staat gestel om tweede te eindig,” het Sebati gesê.
Behalwe vir Marokko en Kenia, was die tuisspan, Algerië, asook Benin die ander spanne wat die spit moes afbyt teen Suid-Afrika en Egipte. Marokko het uiteindelik derde geëindig.
Beide die Suid-Afrikaase onder-16 spanne (seuns en meisies) het in die vierde plekke geëindig by die toernooi en kon dus ook nie vir die junior wêreldkampioenskap kwalifiseer nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
