Tuks se rugbyspan klop Maties by USSA toernooi
Tuks se rugbyspan het hul tweede trofee van die seisoen gewen toe hulle Maties in die eindstryd van die USSA toernooi geklop het.
Dit was soete wraak vir Nico Luus en sy span toe hulle verlede week daarin geslaag het om hul aartsvyand, die Universitiet van Stellenbosch (Maties) in die eindstryd van die jaarlikse University Sports South Africa (USSA) toernooi te klop.
Dit was, soos gewoonlik, ’n klipharde en taai stryd, maar Tuks kon daarin slaag om die sogemnaande “Maroen Masjien” te stuit en die eindstryd met 19-18 te wen.
Wat dié oorwinning nog meer bevredigend maak vir die Pretorianers, is dat hulle dit op Maties se tuisveld in die Danie Craven stadion in Stellenbosch kon doen.
Met hierdie oorwinning het Tuks effens vergoed vir hul enigste twee nederlae tot dusver vanjaar, wat albei teen Maties in die Varsitybeker toernooi was.
Luus se manne het op pad na die eindstryd by die USSA toernooi ook maklik met teenstanders soos die Pukke van Potchefstroom (54-13) en Wits (29-15) afgereken.
Hoewel Tuks altyd ’n span is om mee rekening te hou, lyk hierdie jong span van 2019 na ’n groep wat nog besondere hoogtes kan bereik. Dié span is tans nog onoorwonne in beide die Carltonbeker toernooi en die Volcano Super Klubtoernooi.
Hierdie oorwinning in die USSA toernooi beteken dat Tuks reeds hul tweede trofee van die seisoen in die vertoonkas kan bêre, nadat hulle twee weke gelede ook die Lucas Strachan Skild verower het as voorloper in die Carltonbeker toernooi ná die eerste rondte.
Tuks speel eerskomende naweek in ’n weg-wedstryd teen die Northam Rhinos in die Volcano Super Klubtoernooi.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
