Local sportSport

Baie op die spel in pylvak van Volcanobeker toernooi

Die stryd om ‘n plek in die halfeindstryde van die Volcanobeker interprovinsiale klubrugby toernooi word al hoe feller, terwyl drie van die spanne ook kompeteer vir ’n geleentheid om volgende jaar aan die Gouebeker nasionale klubkampioenskap deel te neem.

Met vyf rondtes van die Volcanobeker interprovinsiale klubrugby toernooi wat oorbly, is ’n plek onder die top vier spanne – om sodoende vir die kompetisie se halfeindrondte te kwalifiseer – tans nié die enigste stryd wat onder deelnemende spanne woed nie.

Pretoria se drie “oopklubs”, ABE Midas Naka Bulle, Centurion en Quins-Bobbies (QBR), is nie net al drie in die wedloop om halfeindronde plekke in dié toernooi nie, maar daar is ook ’n ander titaniese stryd wat oor die volgende vyf  weke tussen dié drie klub gaan woed. Dít is die stryd om die Blou Bulle se top oopklub te wees wat dan outomaties sal kwalifiseer om dié provinsie volgende jaar by die Nasionale Gouebeker klubkampioenskap te verteenwoordig.

Hoewel al drie hierdie spanne teoreties nog die Carltonbeker kan wen, is dit onwaarskynlik dat een van hulle Tuks teen 24 Augustus, wanneer die laaste wedstryd in dié toernooi gespeel sal word, kan inhaal en verbysteek op die Carltonbeker puntelys. Dáárvoor sal Tuks ten minste twee keer moet verloor, wat hoogs onwaarskynlik is.

Daar is egter tans bittermin te kies tussen die drie “oopklubs” op die Volcanobeker toernooi se punteleer en met vyf wedstryde wat oorbly is die Gouebeker geelwortel nog binne al drie se bereik.

– QBR het juis die afgelope naweek gewys dat hulle nog lank nie uit enige wedloop is nie, toe hulle Centurion op laasgenoemde se tuisveld met 42-40 geklop het.

Dit was ’n baie opwindende wedstryd, wat 12 drieë opgelewer het. Albei spanne het ses keer gaan druk, wat beteken dat slegs een verbroude doelskop deur Centurion die verskil tussen die twee spanne was.

Albei hierdie spanne het egter eerskomende Saterdag ’n harde neut om te kraak. Centurion, wat vroeg in Meimaand daarin geslaag het om die omgekrapte span van Springs op hul tuisveld in die Oos-Rand te klop, sal hulself moet staal vir die Valke-kampioen se wraakpoging.

QBR se taak is selfs groter, want hulle sal die magtige Tuks op hul tuisveld in Groenkloof moet probeer oorrompel.

ABE Midas Naka Bulle het die afgelope Saterdag hul wedstryd teen East Rand United (ERU) op hul tuisveld in die Moot met 46-19 gewen.

Dié oorwinning sou egter min van hul getroue ondersteuners heeltemal tevrede gestel het. Dit was duidelik dat Louis van Biljon en sy makkers hul spelpeil ’n paar kerwe sal moet lig as hulle hierdie kompetisie wil wen of selfs voor wil eindig in die wedloop om die Blou Bulle se Gouebeker verteenwoordiger in 2020 te wees.

ABE Midas Naka Bulle het weer stadig uit die blokke gekom en teen rustyd was die telling nog 13-12 in die tuisspan se guns.

Die manne van die Moot kon die hardnekkige aanslag van die span uit Reigerpark aan die Oos-Rand eers in die laaste kwartier minute behoorlik afskud, toe hulle drie van hul uiteindelike sewe drieë in dié periode gedruk het.

Dis veral ABE Midas Naka Bulle se konsentrasie op die verdediging wat soms lol en daardeur skep hulle die geleentheid vir hul teenstanders om heeltemal te maklik drieë te druk en sodoende by te bly op die telbord.

Tuks het ná hul sukses by die University Sport South Africa (USSA) toernooi weer op volspoed by die Volcanobeker toernooi ingeval en elf drieë ingeryg om die top klubspan in Limpopo, die Northam Rhinos, met 73-28 kaf te draf.

Tuks se speelstyl, fiksheid en vaardigheid bly ’n kerf bo die res in hierdie toernooi en die span wat hulle vanjaar wil klop sal eerstens tempo van die wedstryd moet beheer. As dít nie gebeur nie, sal die studente se vaardighede net té veel bly vir hul teenstanders om te hanteer.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button