Local sportSport

Blou Bulle stel erg teleur in Curriebeker wedstryd teen indrukwekkende Cheetahs

Die Cheetahs het Vrydagaand op Loftus Versfeld met ‘n oortuigende oorwinning teen die Blou Bulle gewys dat hulle vanjaar ernstige aanspraakmakers in die Curriebeker kompetisie gaan wees.

Enigiemand wat gedink het dat die Cheetahs ’n tweederangse span is sedert hulle nie meer SuperRugby speel nie sal wéér moet dink.

Ná Vrydagaand se oorwinning van 43-27 oor die Blou Bulle op Loftus Versfeld moet Franco Smith se span nou een van die vroeë gunstelinge wees in vanjaar se Curriebeker reeks.

Die Cheetahs was vooraf eintlik ’n onbekende faktor, aangesien hulle verlede seisoen grootliks met hul tweedespan aan die Curriebeker reeks deelgeneem het vanweë oorvleueling van bepalings met die Pro14 toernooi.

Hoewel die Blou Bulle vooraf gesê het dat hulle nie die Vrystaters maklik sal onderskat nie, het dit skynbaar tog bebeur. Teen rustyd was min toeskouers op Loftus Versfeld oortuig dat die vooraf-praatjies enigsins ernstig bedoel is.

Die Blou Bulle se probleme het sommer vroeg in die vaste skrums begin, waar die Cheetahs hulle harde bene laat kou het. Dié voordeel het aan die besoekers heelwat momentum verleen en hulle kon dus maklik tipiese Vrystaat-rugby speel. Dít sluit in aanvallende rugby teen ’n hoë tempo van oral op die veld.

Te midde van hul gesukkel in die skrums was die tuisspan se verdediging hul ander groot probleem. In vergelyking met wat hulle in die SuperRugby toernooi reggekry het, was hierdie vertoning op die verdediging inderdaad skokkend.

Die gevolg van die Blou Bulle se oorhoopsheid op die verdediging was drie puik drieë deur die manne van Bloemfontein vóór rustyd en ’n agterstand van 12-22 wat hulle moes probeer uitwis in die laaste 40 minute.

Enige hoop wat die handjie toeskouers op Loftus Versfeld gehad het dat hul span sake in die tweede helfte sou regstel is vroeg-vroeg verydel toe heelagter Louis Fouché oor is vir die Vrystaters se vierde (bonuspunt) drie na net tien minute se spel.

Die Blou Bulle het teruggeslaan met ’n drie deur Rosko Specman, maar daarna het die manne van Bloemfontein spel vir nog twintig minute lank oorheers en ‘n verdere twee drieë deur Jasper Wiese en Darren Adonis het gevolg.

Toe die besoekers besef die oorwinning is in die sakkie, het hulle die voet van die pedaal afgehaal en die Blou Bulle kon in die laaste twee minute darem sorg vir een bonuspunt op die punteleer met twee troosdrieë deur Johan Grobbelaar en Conrad van Vuuren.

Hierdie oorwinning van die Cheetahs het twee dinge bewys. Eerstens is die Pro14 toernooi waarskynlik baie sterker as wat die meeste Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers besef en tweedens sal die Blou Bulle se vaste vyf en die hele span se verdediging dramaties moet verbeter. As dít nie gebeur nie, kan Pote Human en sy manne nou al vergeet van ’n plek in die Curriebeker uitspeelrondtes.

PUNTEMAKERS:

BLOU BULLE: 27  Drieë: Cornal Hendricks, Ruan Steenkamp, Rosko Specman, Johan Grobbelaar, Conrad van Vuuren. Doelskoppe: Manie Libbok (1).

CHEETAHS: 43  Drieë: Henco Venter, Benhard van Rensburg (2), Louis Fouché, Jasper Wiese, Adonis Darren.  Doelskoppe: Tian Schoeman (5). Strafdoele: Tian Schoeman. (1).

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

 

https://web.facebook.com/BullsOfficial/videos/1441583052657412/

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button