Local sportSport

Groot tweestryd wag tussen Centurion en ABE Midas Naka Bulle

Eerskomende naweek se stryd tussen Centurion en ABE Midas Naka Bulle sal ’n deurslaggewende wedstryd in beide die Volcanobeker- as die Carltonbeker toernooie wees.

’n Reuse tweestryd sal eerskomende naweek op ABE Midas Naka Bulle se tuisveld in die Moot plaasvind wanneer dié span en Centurion mekaar in ’n Volcanobeker kragmeting aanvat.

Na die afgelope naweek se Klubrugby aksie is daar slegs drie ligapunte verskil tussen die twee spanne op die Volcanobeker punteleer, terwyl ’n reuse stryd ook tussen hulle woed op die Carltonbeker punteleer. Laasgenoemde statistiek gaan deurslaggewend wees om te bepaal watter klub volgende jaar die Blou Bulle in die nasionale Gouebeker klubkampioenskap sal verteenwoordig.

Beide dié twee klubs het die afgelope naweek goeie bonuspunt oorwinnings in die Volcanobeker toernooi behaal en hulle jag nou albei die tweede plek op die punteleer op pad na die halfeindstryde.

–  ABE Midas Naka Bulle moes Saterdag in Rustenburg hard werk om die huidige Gouebeker kampioen, Impala, met ’n telling van 34-26 te klop.

Nadat die Noordwesters meer as die helfte van hul staatmakers sedert die Goubeker eindstryd vroeg in April verloor het, het hulle in die eerste rondte van die Volcanobeker toernooi kwaai gesukkel. Dié trotste klub het onder die leiding van hul nuwe hoofafrigter, die gewese Stormers losskakel Naas Olivier, stadig maar seker weer hul geledere versterk en speel nou weer kompeterende rugby in die Volcanobeker toernooi.

Die manne van die Moot het egter daarin geslaag om vier drieë teen Impala te druk en dus ook ’n bonuspunt in te palm.

Impala het self vier keer agter die doellyn gaan kuier, maar hul skopwerk na die pale was nie so suiwer soos dié van ABE Midas Naka Bulle se Danny Mokoabane, wat met vier doelskoppe en twee strafdoele geslaag het nie.

Centurion het ’n harde neut gehad om te kraak toe hulle die Valke se kampioenspan, Springs, op hul tuisveld in die skadu van die Gautrein-spoor in Centurion aangedurf het.

Springs is ’n ernstige kandidaat vir die halfeindstryd van die toernooi en lê tans nog tweede op die punteleer, hoewel hulle twee wedstryde meer as Centurion en ABE Midas Naka Bulle gespeel het.

Centurion het egter vir ’n tweede keer vanjaar met die Oos-Randers afgereken deur hulle met 39-24 te klop. Hierdie bonuspunt oorwinning van die manne uit Pretoria se suide het hulle weer laat opskuif na die vierde plek op die Volcanobeker punteleer.

‘n Oorwinning oor ABE Midas Naka Bulle eerskomende naweek sal Centurion ook op die Carltonbeker punteleer in ’n baie goeie posisie plaas in die wedloop om die Blou Bulle se Gouebeker verteenwoordiger in 2020 te wees.

– Tuks het die afgelope naweek ’n stok in Quins-Bobbies (QBR) se speke gesteek ná die manne van Groenkloof se reeks goeie vertonings in die Volcanobeker toernooi in Junie en Julie.

Tuks het nege drieë ingeryg en QBR met 59-12 oorrompel.

Hierdie terugslag volg net toe QBR na ’n ernstige kandidaat vir die halfeindstryde begin lyk het. Terwyl QBR egter ’n wedstryd meer as die ander twee klubs in die Gouebeker stryd gespeel het, is hulle nou boonop agter Centurion en ABE Midas Naka Bulle op die Volcanobeker punteleer.

Daarenteen kort die Tuks-manne net een oorwinning om hul eerste plek op die Volcanobeker punteleer te verseker, terwyl sleg ’n hoogs onwaarskynlike scenario dit nog vir ABE Midas Naka Bulle moontlik kan maak om Tuks op die Carltonbeker punteleer verby te steek.

–  In die vierde Volcanobeker wedstryd van die afgelope naweek het East Rand United die Northam Rhinos met 31-30 geklop. Beide dié twee spanne is vir alle praktiese doeleindes uit die wedloop na die halfeindstryde, maar hulle het albei die vermoë om nog ’n invloed uit te oefen deur met ’n paar van die gunstelinge af te reken in die volgende maand se bepalings.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button