Agt Bloubul spelers haal SA Skole rugbyspanne
Die Blou Bulle se suksesvolle onder-18 Cravenweekspan van 2019 het agt spelers opgelewer vir die SA Skolespan en SA Skole “A”-span wat eersdaags aan ’n internasionale reeks gaan deelneem.
Ná die Blou Bulle se puik vertoning by vanjaar se Cravenweek skolerugby toernooi is verskeie individuele spelers ook vir hul uitstaande spel beloon toe die nasionale skolespanne onlangs aangewys is.
Vier seuns van Pretoria het die SA Skolespan gehaal, terwyl nog vier in die SA Skole “A”-span ingesluit is.
Dié twee spanne sal later vandeesmaand in ’n reeks wedstryde teen onder-18 spanne van Engeland, Wallis, Argentinië en Frankryk speel.
Die Blou Bulle se Cravenweekspan het vanjaar hul beste toernooi in ’n lang tyd beleef en twee seuns van die Hoërskool Garsfontein was nie net uitblinkers in dié span nie, maar ook die amptelike leiers.
Raynard Roets (slot), wat die Blou Bulle by die Cravenweek aangevoer het, is ingesluit indie SA “A”-span vir die komende internasionale reeks, terwyl die Bloubul Cravenweek onderkaptein, Jurich Claasen (skrumskakel) vir die tweede jaar agtereenvolgens die SA Skolespan gehaal het.
Nog twee Garsies, die senter Zeilinga Strydom en heelagter Geraldo Flusk, het ook die SA Skolespan gehaal.
Roets se slotmaat in die Bloubul Skolespan, Simon Miller van St Albans, is die vierde Pretorianer wat die SA Skolespan gehaal het.
Hoërskool Menlopark se sterk vleuel, Nsuku Baloyi, is die enigste plaaslike agterspeler in die SA “A”-span, terwyl Roets voorlangs vergesel sal word deur Dimakatso Lebelo, stut van Hoërskool Waterkloof en Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) se haker, Jacques-Lois du Toit.
Twee plaaslike bestuurslede is ook met hoër louere beloon. Cobus van Dyk (Waterkloof) sal die SA Skolespan as assistent afrigter bystaan, terwyl Ofentse Moeng van Southdowns College as bestuurder van die SA “A”-span aangewys is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
