Local sportSport

Naka Bulle bespreek hul plek in Gouebeker toernooi

ABE Midas Naka Bulle het die afgelope naweek seker gemaak van hul plek in volgende jaar se Gouebeker toernooi, terwyl hulle saam met Tuks ‘n plek in die Volcanobeker halfeindstryd bespreek het.

ABE Midas Naka Bulle sal in 2020 wéér die Blou Bulle se verteenwoordiger in die nasionale Gouebeker klubkampioenskap wees.

Met hul naelskraapse oorwinning oor Quins-Bobbies (QBR) het die manne van die Moot hul plek in dié gesogte toernooi bespreek afgelope naweek. Met slegs twee plaaslike klubrugby bepalings wat nog in die Carltonbeker liga afgehandel moet word, kan ABE Midas Naka Bulle nie meer deur QBR of Centurion op die punteleer verbygesteek word nie.

– Die manne van Groenkloof het dié voorreg van Gouebeker deelname beslis nie op ’n skinkbord weggegee nie. Dit was weereens ’n tipiese klipharde en genadelose klubrugby stryd wat uiteindelik met 35-33 deur ABE Midas Naka Bulle gewen is.

Die taaiheid van hierdie wedstryd word bevestig deur die feit dat slegs een doelskop die verskil gemaak het tussen wen en verloor.

Beide spanne het vier keer gaan druk, terwyl  Hendrik Mulder van QBR en Danny Mokoabane van ABE Midas Naka Bulle elk ook met drie strafdoele suksesvol was. Mokoanane het egter een doelskop meer as Mulder oorgeklits, wat die oorwinning vir sy span moontlik gemaak het.

Met hierdie oorwinning het Luga van Biljon en sy makkers ook seker gemaak dat hulle vir die interprovinsiale Volcanobeker toernooi se halfeindstyd kwalifiseer.  ABE Midas Naka Bulle sal ná Tukkies tweede op die punteleer eindig, aangesien nie een van die ander spanne hulle meer kan inhaal nie.

Die derde en vierde plekke in di ehalfeindstryde moet egter nog bepaal word en sal in die laaste twee liga-rondtes tussen Springs (38 ligapunte ná 14 wedstryde), Centurion (32 ligapunte ná 12 wedstryde), QBR (32 ligapunte ná 13 wedstryde),  en die Northam Rhinos (32 ligapunte ná 12 wedstryde), uitbaklei word.

– Met hul verrassende nederlaag van 19-38 teen Rustenburg Impala het Centurion baie druk op hulself geplaas om met hul laaste twee ligabepalings genoeg punte te versamel om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

Riaan Brand se manne het ten minste sewe ligapunte nodig in hul laaste twee wedstryde teen East Rand United en Tukkies as hulle hul plek in die halfeind wil bespreek.

Alternatiewelik sal hul lot afhang van QBR en die Northam Rhinos se prestasie in hul laaste bepalings.

– Die manne van Northam het egter duidelik ook hul oog op ‘n plek in die uitspeelrondtes, nadat hulle Springs se waagstuk om verlede week punte te gee teen Tukkies effens laat boemerang het.

Northam het Springs oortuigend met 46-24 geklop. Die Oos-Randers se probleem is dat hulle met dié wedstryd hul ligaverpligtinge afgehandel het en dat hulle nou moet wag om te sien hoe die ander aanspraakmakers in die laaste twee rondtes vaar voordat hulle sal weet of hulle die halfeindstryd gehaal het.

Die bonuspunt wat Springs met hul vier drieë teen Northam ontvang het, kan uiteindelik deurlaggewend wees.

Tuks stoom steeds onoorwonne voort en Nico Luus se manne het die afgelope naweek hul twaalfde voltal in twaalf wedstryde behaal toe hulle East Rand United (ERU) met 78-10 verslaan het.

Die studente het 12 drieë ingeryg, terwyl die manne van Reigerpark aan die Oos-Rand slegs twee keer die doellyn kon haal.

Tuks kan ook eerskomende Saterdag hul titel as Carltonbeker kampioen suksesvol verdedig as hulle ABE Midas Naka Bulle op laasgenoemde se tuisveld in die Moot kan klop. Die studente het net drie ligapunte nodig om seker te maak dat hulle dié gesogte beker wen en ’n oorwinning sal dus genoeg wees om die titel te beklink.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button