Gewilde hengelbyeenkoms vir gestremdes is terug en beter as ooit
Die jaarlikse hengelkompetisie van Ramcat Fish word vanjaar oudergewoonge by die Irene Country Lodge in Centurion aangebied.

Die jaarlikse Ramcat hengelbyeenkoms vir gestremde hengelaars het oor die afgelope jare gegroei tot een van Pretoria se gewildste sportbyeenkomste met die aanbreek van lentetyd.
Hierdie unieke hengelbyeenkoms, waarvoor sommige deelnemers jaarliks vanoor die lengte en breedte van die land opruk, beloof om vanjaar groter en beter as ooit te wees.
Die byeenkoms word oudergewoonte deur Ramcat Fish op Saterdag 1 September by die Irene Country Lodge in Centurion se dam aangebied.
Die hoof organiseerder, Gerard (Yster) Smal, en sy span het reeds bekendheid verwerf met die wyse waarop hulle tydens dié byeenkoms al die rolstoel-hengelaars behoorlik bederf en op die hande dra.
Behalwe vir die baie pryse wat te wen is, word deelnemers ook getrakteer met genoeg om te eet en te drink terwyl hulle die dag saam met ander gestremde hengelaars geniet. Alle deelnemers sal by aankoms met koffie en beskuit verwelkom word. Ontbyt en middagete sal aan alle deelnemers bedien word, terwyl ’n kontant kroeg ook weer beskikbaar sal wees.
Hierdie byeenkoms het aanvanklik jare gelede begin as bymekaarkoms van manne wat in die ou Suid-Afrikaanse Weermag beseer en gestremd geraak het. Later het manne wat weens rugbybeserings gestremd geraak het bygekom, terwyl gestremdes wat in motor- en motorfietsongelukke beseer is ook deel van die familie geword het. Deesdae is enige gestremde hengelaar welkom om in die samesyn van die dag te kom deel.
Hoewel slegs gestremde hengelaars amptelik vir die kompetise kwalifiseer, is hul vriende en familie welkom om die dag saam met hulle langs die dam te spandeer. Hengelaars mag ook met sekere take deur helpers bygestaan word.
Sedert verlede jaar se byeenkoms het die eienaars van Irene Country Lodge baie verbeterings aangebring op die terrein en die rolstoel hengelars sal veral baatvind by die netjiese geplaveide paadjies wat toegang na die dam sal vergemaklik.
Weens die oorspronklike assosiasie met Weermagveterane word die dag steeds ondersteun deur baie oud offisiere. ’n Hoogtepunt op vanjaar se program is die nuus dat een van Suid-Afrika se beroemdste krygsgevangenes, kaptein (later kolonel) Wynand du Toit, die verkenningsoldaat wat jare in ’n tronk in Angola deurgebring het, ’n gas by die hengelfees sal wees. Deelnemers en hul families sal dus die geleentheid kry on dié legendariese offisier te ontmoet.
Die dag begin reeds om 06:30 met inskrywings, waarna ontbyt teen 08:30 bedien sal word. Daarna sal die visvang begin tot om 14:30, wanneer die hengelaars en hul gaste met braaivleis vir middagete getrakteer sal word, terwyl pryse uitgedeel sal word.
Vir enige navrae en inskrywings, skakel Gerard Smal by 081-754-8144 of stuur ‘n epos na ystersmal@gmail.com .
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
