Bokke klop Argentina op Loftus in toets sonder veel opwinding
Dit was maar valerig en grootliks onopwindend, maar Rassie Erasmus se “bystandspan” het Saterdag op Loftus Versfeld uiteindelik daarin geslaag om Argentina te klop tydens die Springbokke se sogenaamde “vaarwel”-toets voor hulle vetrek na Japan vir die wêreldbeker toernooi.
Twee pragdrieë waarmee Sbu Nkosi bewys het dat hy waarskynlik die Springbokke se beste regtervleuel is, was die hoogtepunte van ’n saaierige toetswedstryd waarin Schalk Brits en sy manne die span van Argentina met 24-18 geklop het.
As daar in ag geneem word dat hierdie Springbokspan op ’n manier Rassie Erasmus se “bystand” span genoem kan word, is dit waarskynlik verkaarbaar waarom die wedstryd baie stadig begin het.
Argentina se afrigter het ook nie sy sterkste span op die veld gestuur nie – ook waarskynlik met die oog op sy wêreldbeker beplanning – en die twee spanne het redelik goed teen mekaar opgeweeg.
Die eerste punte van die wedstryd is eers na 19 minute aangeteken, nadat Elton Jantjies ’n strafdoel behaal het.
Kort daarna het die Bokke egter die deurbraak gemaak met ’n puik drie deur Sbu Nkosi, nadat die agterlyn ’n man-oor situasie bewerk het. Nkosi moes steeds hard werk en drie verdedigers met sy systap en krag klop, voordat hy in die regterhoek kn oorduik.
Die Suid-Amerikaners het egter ná die rustyd toeter reeds geblaas is teruggeslaan met ’n onderskepdrie deur die slot, Guido Petti. Hy het sowat 40 meter ver genael nadat hy ‘n aangee van Cobus Reinach onderskep het.
Gevolglik het die besoekers teen rustyd met 10-8 vorgeloop.
Na rustyd het die stryd op dieselfde vervelige trant voortgegaan, met die grootste opwinding ’n puik individuele drie deur Nkosi, waartydens hy sowat vier teenstanders geklop het.
Die besoekers het geantwoord met ’n drie deur hul kaptein, Pablo Matera, wat heeltemal té maklik na ’n lynstaan deurgestorm het.
Daarna was dit die skopskoen van Elton Jantjies wat die Bokke deurgedra het, terwyl die Suid-Afrikaners gelukkig was dat ’n drie deur senter Lucas Mensa gekanselleer is weens obstruksie deur ’n spanmaat van hom vroeër in die beweging.
Uiteindelik sal baie van die Bokke wat op die veld was slegs op Rassie Erasmus se bystandlys wees, so daar sal seker nie veel kommer wees oor dié span se vertoning op Loftus nie.
PUNTEMAKERS:
SPRINGBOKS: 24 Drieë: Sbu Nkosi (2). Doelskoppe: Elton Jantjies (1) Strafdoele: Elton Jantjies (3)
ARGENTINA: 18 Drieë: Guido Petti, Pablo Matera. Doelskoppe: Joaquin Diaz (1). Strafdoele: Joaquin Diaz (2).
Skeidsregter: Luke Pearce (England)
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





