Local sportSport

Onoorwonne Tuks is weer Carltonbeker kampioen

Tukkies het hul vernaamste uitdager in die Carltonbeker toernooi verlede week geklop om te verseker dat hulle hul titel as Carltonbeker kampioen suksesvol verdedig.

Tukkies se spog rugbyspan, wat steeds onoorwonne is in vanjaar se Carltonbeker– en Volcanobeker ligas, is verlede week as die Carltonbeker kampioen gekroon al het hulle nog een bepaling om af te handel in hierdie reeks.

Met Tuks se oorwinning van 29-19 oor ABE Midas Naka Bulle het die studente seker gemaak dat hulle nie meer ingehaal kan word op die Carltonbeker punteleer nie, hoewel hulle nog ’n bepaling in dié liga teen Centurion moet afhandel.

Die Carltonliga word vanjaar gelyktydig met die interprovinsiale Volcanobeker toernooi afgehandel. Slegs die statistiek van die vier deelnemende klubs onder jurisdiksie van die Blou Bulle Rugby-unie word egter vir die Carltonliga in ag geneem. Dié liga het ook nie ’n uitspeelfase nie en die span vat bo aan die punteleer eindig, word as Carltonbeker kampioen gekroon.

Tuks moes egter baie hard veg vir hierdie oorwinning, wat by ABE Midas Naka Bulle in die Moot gespeel is.

Die studente het hul oorwinning te danke aan hul spel in die eerste helfte, waartydens hulle daarin gelsaag het om drie keer die doellyn te haal. Daarenteen het die tuisspan slegs een drie in die eerste skof gedruk en Tuks het met die omdraaislag reeds met 21-11 voorgeloop.

Die tweede helfte van hierdie wedstryd was egter van die taaiste en hardeste klubrugby wat vanjaar nog in beide die Carltonbeker- en Volcanobeker ligas gesien is.

Geen genade is gevra of betoon nie en die twee spanne het mekaar met oorgawe aangevat.

Toe ABE Midas Naka Bulle in die tweede helfte gaan druk en Danny Mokoabane later met nog ’n strafdoel slaag, was daar slegs ’n paar punte verskil tussen die twee spanne en die spanning het tot breekpunt opgebou.

Tuks het egter in die doodsnikke van die wedstryd daarin geslaag om weer te druk en daarmee die oorwinning te beklink.

Sodoende het die studente ook hul enigste realistiese uitdager in die Carltonbeker stryd uitgeskakel en seker gemaak dat hulle vir die tweede seisoen agtereenvolgens as Carltonbeker kampioen gekroon kon word.

– Hoewel Tuks (weg) en ABE Midas Naka Bulle (weg) albei nog eerskomende naweek onderskeidelik teen Centurion en Northam moet speel, kan hulle nie meer op die Volcanobeker punteleer ingehaal word nie. Tuks sal dus eerste eindig, met die Manne van die Moot in die tweede plek.

Die derde en vierde plekke sal eerskomende naweek in die laaste rondte bepaal word. Teoreties het vier spanne nog ’n kans om dié laaste twee plekke in die halfeindrondte te haal. Hulle is Northam (tans derde), Centurion (tans vierde), Springs (tans vyfde) en Quins-Bobbies (QBR, tans sesde).

Northam en Centurion benodig slegs een bonuspunt om hul plek in die halfeindstryd te bespreek.

Springs sal egter hoop dat een of albei van dié twee groot loesings sal kry en geen bonuspunte sal insamel nie. Op dié manier kan Springs, wat soos bogenoemde twee klubs ook 37 punte op die punteleer het, met die hulp van ‘n moontlike beter punteverskil (punte aangeteken minus punte afgestaan) dalk vir die halfeindstryd kwalifiseer.

QBR se kanse om by die agterdeur in te glip na die halfeindstryd is die skraalste. Hulle moet Rustenburg Impala, wat weer kookwater rugby speel, in ’n weg wedstryd pakgee en dan ook só goed wen dat ’n gunstige punteverskil hulle moontlik by ten minste twee van die ander drie kandidate kan laat verbyskuif.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button