Local sportSport

Vroue-afrigter brei skoolseuns tot rugby kampioene

Die nuwe onder-14 kampioenspan in die Blou Bulle se middelskole liga het ’n geheime wapen wat gereeld deur die loop van die seisoen deur teenstanders onderskat is.

Die Hoërskool Uitsig in Centurion se onder-14 A rugbyspan het onlangs die Stadsbeker in die Blou Bulle se Middelskole liga gewen.

Behalwe dat hulle die plaaslike seisoen onoorwoonne afgesluit het, het hulle ook gekwalifiseer vir die uitspeel wedstryde in die ope-afdeling van die Virsekerbeker reeks.

Hierdie prestasie van Uitsig se juniors het egter ’n kinkel, want dié span het ’n besondere geheime wapen. Haar naam is Jolandi Saayman, die span se hoofafrigter.

Sover bekend is dit die eerste keer in die geskiedenis van skolerugby in Suid-Afrika dat ’n hoërskool rugbyspan ’n liga wen nadat hulle deur ’n vroulike afrigter onder hande geneem is.

Saayman is egter byna nonchalant oor die prestasie wat sy en haar span onder-14’s regekry het. Deur die seisoen het hulle met spanne van skole soos Hoërsklool Akasia. Hoërsklool Gerrit Maritz en Hoërsklool FH Odendaal afgereken.

Vir dié kleindogter van die legendariese Bloubul vleuel, Poens Prinsloo – een van slegs drie sportmanne in die geskiedenis van Suid-Afrika wat dubbele Springbokkleure in rugby en atletiek kon verwerf – kom rugby-afrigting as natuurlike gevolg van haar liefde vir die spel, wat sedert haar kinderjare reeds aangewakker is.

Haar pa, Poena, was sedert haar skooljare al by die Polisie Rugbyklub en Bobbies Jeugklub betrokke en die jong Jolandi het letterlik langs die rugbyveld grootgeword.

Na skool het sy ’n graad in Sportbestuur behaal en toe ook ’n onderwys kwalifikasie daarby gevoeg. Toe sy begin skoolhou, was rugbyafrigting vir haar ’n logiese gevolg in dié beroep.

Hoewel sy nooit self rugby gespeel het nie – sy was ’n provinsiale korfbalspeler en ’n goeie atleet – het Saayman altyd geweet dat sy genoeg kennis van rugby het om te kan afrig.

Sy het ’n voorliefde vir opwindende hardlooprugby en spesialiseer as agterlyn afrigter, met haar kollega Jason Fourie, wat die voorspelers onder hande geneem het. In hierdie hoedanigheid het haar entoesiasme gou oorgespoel na die seuns in haar span, van wie die meerderheid vir die eerste keer op hoërskool met rugby kennis gemaak het.

Na ’n paar weke saam met haar op die oefenveld was hulle almal verlief op rugby en hulle het gou geleer om die bal die werk te laat doen. Toe word hulle die eerste onder-14 span van Hoërskool Uitsig in meer as tien jaar om ’n liga te wen.

“Aan die begin het die seuns en ander afrigters gedink dis ’n snaaksigheid. Op ’n dag het ons by een van die teenstanders aangekom en daar het hulle gedink ek is die span se fisioterapeut. Maar toe my seuns hulle begin dronk hardloop, het hulle gou agtergekom waarmee hulle te doen het,” vertel Saayman met ’n groot glimlag.

Dié nuwe rugbyafrigtersfonds en haar kollega beplan om die span volgende jaar op onder-15 vlak weer af te rig.

Sy is getroud met Jeffery Saayman en hul het ’n tweejarige seuntjie, Handré.

“Mense kan maklik raai na wie hy vermoem is. Maar ons glo hy sal sy naamgenoot eendag op die veld kan trots maak. Ons werk al aan sy vaardighede,” het Saayman laggend aan Rekord vertel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button