Local sportSport

Blou Bulle verloor teen Sharks op Loftus, maar vermy promosie-relegasie vernedering

Hoewel die Blou Bulle enduit geveg het nadat hulle vir 43 minute met veertien man moes klaarkom, was hulle nie in staat om die Sharks op Loftus Versfeld te klop in hul laaste Curriebeker wedstryd van 2019 nie.

Dit was opwindend, maar nie goed genoeg nie en die Blou Bulle van 2019 moes uiteindelik hul Curriebeker veldtog met ’n nederlaag teen ’n hongerder Sharks span afsluit.

Die manne uit Durban het vir die Curriebeker halfeindstryd gekwalifiseer deur die Pretorianers met 48-40 te klop op Loftus Versfeld.

Met die opdrafslag het die Blou Bulle nog ’n baie skraal kans gehad om die Curriebeker halfeindstryd te haal. Nadat die WP in Bloemfontein ’n bonuspunt behaal het in hul nederlaag teen die Cheetahs, moes Pote Human se manne egter die byna onmoontlike regkry om die Sharks met ’n punteverskil van ten minste 71 te klop as hulle volgende week in die Curriebeker halfeindstryd wou speel.

Hoewel die Sharks eerste punte aangeteken het met twee strafdoele, het dit op ’n stadium vroeg in die eerste helfte gelyk asof die Blou Bulle wel daardie onmoontlike teiken wou jaag. Hulle was doelgerig en het aanhoudend aangeval.

Na twintig minute se spel was die tuisspan met 14-6 voor en steeds op die aanval. Maar toe slaan die besoekers terug en die wedstryd word stadiger. Na ’n lynstaan-dryfbeweging is Thomas du Toit oor die doellyn en skielik het die Bulle se momentum begin stotter.

Hoewel Manie Libbok daarna hul derde drie gaan druk het, was die koeël basies voor rustyd deur die kerk toe die noodlot weer toeslaan vir die Blou Bulle. Vir ’n tweede agtereenvolgende wedstryd moes ’n Bloubul speler in ’n rooikaart van die skeidsregter vaskyk toe Johnny Kotze paviljoen toe gestuur is ná ‘n roekelose laat-hoogvat op Kobus van Dyk.

’n Drie deur André Esterhuizen met die halftyd toeter in die agtergrond het die rustydtelling op 21-27 in die guns van die Natallers te staan gebring.

Soos te wagte het die Sharks sommer gou die ekstra man agterlangs uitgebuit in die tweede helfte en na net vyf minute se spel was Jeremy Ward en Kobus van Dyk oor die doellyn om die Sharks se voorsprong te rek.

Die manne in Blou het waarskynlik op daardie stadium besef dat hul kanse om in die halfeindstryd te speel neusie verby is, maar daar was natuurlik ook nog die ander swaard oor hul koppe. Hulle moes ten minste een bonuspunt verdien om bo die Pumas op die Curriebeker punteleer te eindig en sodoende die vernedering van ’n promosie-relegasie wedstryd teen die top span in die B-afdeling gespaar te word.

Hierdie broodnodige bonuspunt het gelukkig vir die Blou Bulle na 12 minute se spel in die tweede helfte gekom, toe Cornal Hendriks ’n puik beweging kon afrond vir hul vierde drie.

Daarna het beide spanne steeds positiewe rugby gespeel, maar die Sharks het waarskynlik in die laaste tien minute voor, en eerste tien minute ná rustyd genoeg gedoen om die oorwinning te beklink.

PUNTEMAKERS:

BLOU BULLE: 40  Drieë: Johnny Kotze, Lizo Gquboka, Manie Libbok, Cornal Hendricks, Stoney Steenkamp, Tim Agaba. Doelskoppe: Manie Libbok (4), Vaughn Isaacs (1).

SHARKS: 48 Drieë: Thomas du Toit, Jacques Vermeulen, André Esterhuizen, Jeremy Ward, Kobus van Dyk. Rhyno Smith. Doelskoppe: Sanale Nohamba (5) Rhyno Smith (1). Strafdoele: Sanele Nohamba (2)

https://web.facebook.com/BullsOfficial/videos/731278083984507/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button