Local sportSport

Dis Tuks teen Naka Bulle in Volcanobeker eindstryd

Tukkies en ABE Midas Naka Bulle ontmoet mekaar Saterdag op Loftus Versfeld in die eindstryd van die Volcanobeker klubrugby toernooi, nadat hulle die afgelope naweek onderskeidelik met Centurion en Northam afgereken het in die halfeindstryde.

Ten spyte van groot aanslae van Centurion en die Northam Rhinos en die twee klubs wat in die eerste twee plekke op die punteleer van die interprovinsiale Volcanobeker klubrugby toernooi geëindig het, die afgelope Saterdag deurgedring na eerskomene naweek se eindstryd.

Die onoorwonne span van Tuks sal op Saterdag 7 September teen ABE Midas Naka Bulle speel om die eerste amptelike Volcanobeker kampioen te bepaal.

– Op ABE Midas Naka Bulle se tuisveld in die Moot het Marinus van der Watt se manne Saterdag waarskynlik hul beste wedstryd van die seisoen gespeel toe hulle die Limpopo Bulle se spogspan, die Northam Rhinos, redelik maklik met 48-8 geklop het.

Nadat die Bosvelders verlede week op hul tuisveld met ABE Midas Naka Bulle afgereken het (40-38) in die laaste ligabepaling van die seisoen, het hulle met baie selfvertroue in Pretoria opgedaag. Daar was vooraf beslis ’n positiewe gees onder die manne van Limpopo en selfs die groot groep ondersteuners wat hulle na Pretoria vergesel het, het ook geglo dat hul span vir ’n tweede keer met die manne van die Moot sal kan afreken.

Luga van Biljon en sy span was egter vir die eerste keer vanjaar werklik klinies in die uitvoering van hul wedstrydplan.

Terwyl hulle die vaste fasette oorheers het met ’n puik vertoning van die vaste vyf, was dit weer Van Biljon en sy mede losvoorspelers, Ian van Deventer en Jonathan O’Neil, se harde werk by die afbreekpunte en op die verdediging wat Northam verhoed het om enige momentum te kon opbou wanneer hulle balbesit gehad het.

’n Mens kan nie anders as om ook die hardwerkende jong slot, JP Alberts, se naam te noem nie. Dié jongman het ook baie vaart en is beslis goed genoeg om op slot of flank provinsiale rugby te speel.

Agterlangs was die tuisspan se verdediging puik en die besoekers uit die Bosveld kon net een keer die doellyn haal. Hier het veral Jean Grobler op binnesenter ’n deurslaggewende rol gespeel en as hy hierdie vorm eerskomende Saterdag teen Tuks kan behou, kan hy ’n sleutelrol in ABE Midas Naka Bulle se aanslag op die titel speel.

Grobler se kombinasie met sy sentermaat Tshotsho Mbovane was puik, terwyl laasgenoemde se hardlooplyne en vaartversnelling die Bosvelders oorhoops gehad het op die verdediging.

Teenoor die besoekers se enkele drie het ABE Midas Naka Bulle ses puik drieë gedruk, almal deur agterspelers.

– In die Tuks Rugbystadion het Centurion die studente se ondersteuners groot laat skrik. Ná verlede week se gelykop uitslag tussen dié twee spanne in hul laaste ligabepaling, het Riaan Brand se manne uiteraard ook met meer selfvertroue Hatfield toe gereis.

Vir sestig minute het Albert Bakker en sy makkers gewys dat hulle inderdaad die resep gevind het om Tuks se indrukwekkende masjien uit rat te gooi.

Centurion het weer voorlangs die pap dik aangemaak en Tuks se goedgedrilde masjien dáár reeds ontwrig. Agter dié pak voorspelers het die jong losskakel, Ethan Wentzel, weer nie ’n tree vir sy hoogaangeskrewe teenstander en gewese provinsiale speler, Steven Moir, teruggestaan nie.

Die gevolg van Centurion se groot aanslag was dat hulle teen rustyd met 13-12 voorgeloop het. Die titaniese stryd het in die derde kwart van die wedstryd voortgeduur. Elke span het in dié fase een keer gaan druk en met twintig minute se spel oor was Centurion voor met 20-19.

Net toe die manne uit die suide se ondersteuners werklik begin glo dat hulle vir die skok van die seisoen sou kon sorg, het Nico Luus se manne egter hul snelrat gevind. Twee verdoelde drieë en ’n strafdoel deur Moir het Centurion se harte gebreek en die tuisspan se telling buite hul bereik laat aangroei.

– Tuks en ABE Midas Naka Bulle se krag in hierdie liga word beklemtoon deur die feit dat beide klubs se tweedespanne ook na Saterdag se eindstryd deurgedring het.

Tuks se Fezelas het Quins-Bobbies (QBR) in die een halfeindstryd met 64-30 geklop, terwyl ABE Midas Naka Bulle in hul tweestryd met Northam baas was met 32-22.

– Die eindstryd van die derdespanne in hierdie liga sal gespeel word tussen Tuks en QBR. Tuks se derdes (Jongspan) het ABE Midas Naka Bulle se derdes Saterdag in die halfeindstryd net-net met 27-24 geklop, terwyl QBR hul stryd teen Northam met 24-13 gewen het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button