Skole kampioenskap wys Jukskei is steeds gesond
Byna vyfhonderd skoolkinders het oor drie naweke in Augustusmaand deelgeneem aan die finale byeenkoms van die jaarlikse Gauteng-Noord skole jukskei-liga kampioenskap.

Die Gauteng-Noord skole Jukskeiligas is oor die afgelope drie naweke by dié organisasie se terrein op die hoek van Swemmerstraat en 18de laan in die Moot-area van Pretoria met die jaarlikse kampioenskap afgehandel.
Hoewel daar soms persepsies bestaan oor dié sport, soos dat dit ’n sport vir ouer mense of ’n sterwende sport is, het die aksie van die afgelope drie weke weer die teendeel bewys.
‘n Totaal van 128 spanne, wat verteenwoordigend is van 486 skoolkinders, het aan hierdie ligabyeenkomste deelgeneem. Hierdie deelnemers is afkomstig uit agt laerskole en 15 hoërskole vanoor die hele Tshwane gebied.
Laerskool kinders neem in die ouderdomsgroepe onder-11 en onder-13 deel, terwyl hoërskool kinders in onder-16 en onder-19 spanne ingedeel word.
In elk van hierdie ouderdomsgroepe kan drie verskillende spanne deelneem. Seuns- en dogterspanne kompeteer teen mekaar, terwyl daar ook ‘n kategorie vir gemengde spanne bestaan, waarin seuns en dogters saam deelneem.
Daar is ook twee afdelings, waarmee daar seker gemaak word dat spelers volgens hul prestasie op ‘n krag teen krag basies kompeteer.
Volgens ’n woordvoerder van Gauteng-Noord Jukskei, Thomas Venter, het dié provinsie loshande die grootste skoleliga in Suid-Afrika en dit groei steeds. Dit word bewys deur die aantal spanne wat vanjaar ingeskryf het teenoor dié van 2018. Verlede jaar se skole kampioenskap in Gauteng-Noord het slegs 92 spanne gelok.
Vanjaar se 128 spanne verteenwoordig dus ’n groei van 36 spanne by die toernooi.
Die wenners van die afgelope weke se liga finale speel later in Septembermaand in die Noordvaal kampioenskap teen die beste skole van streke soos Noordwes, Mpumalanga en Limpopo.
Jukskeispelers op skolevlak kry ook geleentheid om, na intensiewe proewe, Gauteng-Noord kleure te verwerf. Die verskillende Gauteng-Noord spanne neem dan jaarliks in Desember deel aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap, wat tradisioneel steeds by die bekende Jukskeipark in Kroonstad in die Noord-Vrystaat aangebied word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





