Twizza Superskole atletiekreeks skop af
Die opwindende nuwe Twizza Superskole atletiekreeks skop eerskomende Donderdag in Pretoria af, wanneer skole uit die noordelike dele van die land aan die eerste streeksbyeenkoms sal deelneem.
’n Gees van opgewondenheid en afwagting heers in skole atletiekkringe met die eerste byeenkoms in die opwindende nuwe Twizza Superskolereeks wat eerskomende Donderdag (19 September) in Pretoria plaasvind.
Hierdie atletiekreeks is gebasser op ’n opwindende nuwe konsep, wat uiteindelik daarop gemik is om Suid-Afrika se top atletiekskool te kroon.
Sowat twintig plaaslike skole uit Pretoria sal deel wees van Donderdag se byeenkoms, wat in die Tuks Atletiekstadion aangebied gaan word.
Dié byeenkoms sal die eerste van twee nasionale streeksbyeenkomste wees om uiteindelik die top 40 skole te bepaal wat aan die finale byeenkoms op 1 Februarie 2020 gaan deelneem. Die tweede streeksbyeenkoms sal op 5 Oktober vanjaar in die Groenpunt stadion in Kaapstad plaasvind. Die finale byeenkoms van 1 Februarie vind weer in die Tuks atletiekstadion in Pretoria plaas.
Donderdag se eerste streeksbyeenkoms sal top atlete van skole uit die hele noordelike deel van Suid-Afrika lok. Skole uit die Vrystaat en al vier provinsies noord van die Vaalrivier sal na Pretoria opruk om deel te neem.
’n Baie interessante konsep, waarvolgens elke skool ’n span van slegs 15 atlete in twee ouderdomsgroepe (o.16 en o.19) kan inskryf, sal hierdie reeks uniek maak. Hierdie spanne sal dan op ’n vooraf uitgewerkte formule punte verdien in baanitems soos 100m, 200m, 400m, 800m, 1500m, kort hekkies en lang hekkies, asook velditems soos verspring, driesprong, hoogspring, gewigstoot, diskusgooi en spiesgooi.
Donderdag se aksie in die Tuks stadion begin om 10:00. Vir meer inligting oor die Twizza skole atletiekreeks, besoek gerus die webwerf by www.superschoolseries.com
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
