Top afrigter kry uiteindelik die erkenning wat sy verdien
Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria se atletiekdirekteur het onlangs ’n baie gesogte toekenning voor die neuse van twee gesiene nasionale afrigters weggeraap.
Anders as met die geval van spansportsoorte, is die kollig op afrigters in meer individuele sportsoorte, soos atletiek, nie altyd so sterk nie.
Hierdie feit het vir dié afrigters seker ook voordele, veral ten opsigte van openbare druk. Maar die grootste nadeel is dat hulle dikwels nie die erkening kry wat hulle verdien nie.
Maritza Coetzee, atletiekdirekteur en -afrigter by Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) is ’n goeie voorbeeld hiervan. Toe Coetzee egter enkele weke gelede die gesogte toekenning as G-Sport For Girls se 2019 Afrigter van die Jaar toekenning voor die neuse van ander wêreldklas afrigters wegraap, was die kollig vir ’n slag welverdiend skerp gefokus op dié merkwaardige vrou.
Terwyl die hoofstroom media vooraf glans-artikels gepubliseer het oor die ander twee kandidate vir hierdie prestigeryke toekenning, het Coetzee gedoen wat sy die beste doen – sy het op die agtergrond gebly en gefokus op haar atlete. Die ander twee kandiddate was Banyana Banyana (die nasionale vroue sokkerspan) se hoofafrigter, Desiree Ellis, asook die voormalige Proteas vroue krieketster en deesdae afrigter van die nasionale vroue krieketakademie, Dinesha Devnarain.
Dit is ’n moeilike taak om Coetzee so ver te kry om oor haarself en haar eie prestasies te gesels, maar as ’n mens eers die feite kry oor wat dié nederige vrou al in haar loopbaan bereik het, wonder jy waarom sy nie lankal vereer is nie.
Sy is ’n oud Vrystater wat by een van AHMP se groot teenstanders op die sportveld, Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, gematrikuleer het. Op skool het sy self uitgeblink as 800m- en landloop atleet, terwyl sy ook ’n kranige netbalspeler was.
Haar liefde vir sport het haar vroeg reeds laat besluit om ’n loopbaan in dié rigting te volg. Na skool het sy dus na Pretoria verhuis om by die destydse Tegnikon Pretoria (deesdae TUT), vir ’n kursus in Sport- en Oefenkunde in te skryf.
Sy het op ’n baie vroeë ouderdom begin spesialiseer as atletiekafrigter, spesifiek vir naellopers en hekkies atlete. Sedert sy egter sewe jaar gelede by AHMP as atletiekdirekteur aangestel is, het Coetzee se sukses só geëskaleer dat sy nou as ’n wêreldklas afrigter vereer kon word.
Haar bekendste protégé is natuurlik die briljante jong 400m hekkiesatleet, Zeney van der Walt. Coetzee het dié jong ster as 15-jarige atleet by AHMP raakgesien en begin afrig. Sedertdien het Van der Walt twee junior wêreldtitels ingepalm en vanjaar as 19-jarige met die Olimpiese ster, Wenda Nel, afgereken om die senior Suid-Afrikaanse 400m hekkies kampioen te word.
Ander opkomende sterre wat tans deur Coetzee afgerig word is atlete soos Gezelle Magerman, Charlize Eilerd, Angelique Strijdom en die 16-jarige Juané Gerber, oor wie sy ook baie opgewonde is.
As atletiekdirekteur by AHMP is Coetzee se rekord oor die afgelope sewe jaar ongeëwenaard. Dié skool is in hierdie tydperk onoorwonne by die plaaslike A-bond interhoër (meisies-afdeling), terwyl hulle ook reeds vier keer koning gekraai het by die Super Interhoër, wat in die Noordvaal streek aangebied word.
By vanjaar se Pretoria A-bond interhoër het AHMP se atlete boonop met al die individuele trofees wegegstap.
Die afgelope twee atleiekseisoene het AHMP alle atletiekbyeenkomste waaraan hulle deelgeneem het, gewen. Die skool het in dieselfde tydperk sewe junior SA kampioene opgelewer en vanjaar het 15 dogters van AHMP hul provinsie by die SA kampioenskap verteenwoordig, terwyl hulle saam elf medaljes huistoe kon bring.
Coetzee het self ook al op verteenwoordigende provinsiale vlak as afrigter en spanbestuurder opgetree.
Die logiese vraag vir iemand wat so baie sukses in so kort tyd behaal het, is sekerlik hoe sy dit regkry? Wat is die resep vir hierdie suskes?
Coetzee is hieroor byna filosofies. Sy glo in ’n holistiese benaderling en dis vir haar belangrik dat die atleet nie as ’n masjien behandel moet word nie, maar ook as mens moet ontwikkel.
“Natuurlik is talent en harde werk voorvereistes vir sukses. Maar dan kom die sielkundige aspek ook nog by. ’n Atleet moet gelukkig wees en haar kop moet sterk wees. Hiersonder sal die atleet nie op die heel hoogste vlak kan kompeteer nie”, het Coetzee beklemtoon.
Dis duidelik dat Maritza Coetzee op alle fronte toegerus is om nog baie kampioene op die atletiekbaan te produseer. Hou maar dop, die toekenning van G-Sport For Girls is net die begin.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

