Pretoria skole maak hul stemme dik by Twizza Super Skolereeks
Die eerste streeksuitdun byeenkoms in die opwindende nuwe Twizza Super Skole Atletiekreeks is verlede week in Pretoria aangebied.
Die splinternuwe Twizza Super Skole Atletiekreeks het verlede week in die Tuks Atletiekstadion afgeskop en verskeie top skole van Pretoria het dadelik gewys dat hulle reg is om die stad se eer te beskerm in dié interessante atletiek konsep.
Hierdie unieke reeks is deur die stigters ontwerp om via ’n heel nuwe konsep aan alle skole in Suid-Afrika uiteindelik die geleentheid te gee om op gelyke voet te kompeteer vir die titel as die land se voorste atletiekskool.
Enige skool kan ’n atletiekspan vir die kompetisie inskryf, maar as gevolg van die unieke konsep van die reeks mag die span slegs uit 15 atlete bestaan. Dié atlete moet die skool dan in twee ouderdomsgroepe (o.16 en o.19) in ’n aangewese hoeveelheid baan- en velditems verteenwoordig, maar geen matrikulante van 2019 sal toegelat word om deel te neem nie.
Skole vanoor al vier die Noord-Vaal provinsies, asook die Vrystaat, het verlede Donderdag na Pretoria opgeruk vir die byeenkoms.
Verlede week se byeenkoms in Pretoria was die eerste van twee streeksbyeenkomste. Die tweede sal op 5 Oktober in Kaapstad aangebied word.
Na aanleiding van die uitslae van hierdie twee streeksbyeenkomste sal die beste 40 skole aangewys word, wat dan aan die finale byeenkoms op 1 Februarie volgende jaar weer in Pretoria sal deelneem om die kampioen te kroon.
Verlede week se byeenkoms in die Tuks Atletiekstadion het, ten spyte van die feit dat die skole se atletiekseisoen eintlik eers in Januarie begin, steeds puik vertonings opgelewer. Ongelukkig, weens die konsep van die reeks waar daar vir slegs twee ouderdomsgroepe voorsiening gemaak word, kon sommige prestasies nie na waarde geskat word nie, aangesien die atlete dikwels in ’n hoër ouderdomsgroep deelgeneem het as waarvoor hulle tans kwalifiseer.
Die gevolg was egter dat daar by hierdie eerste byeenkoms nie ’n enkele individuele prestasie was waar ’n atleet meer as 1000 punte op die bekende ABSA tabel kon verdien nie.
Wat die skole se prestasies betref, het plaaslike skole uit Pretoria puik presteer. Op die algehele lys van pretstasies (seuns en meisies gesamentlik) het agt skole van Pretoria tussen die top 20 (uit 33 skole) geëindig. Hulle is Menlopark (eerste), Prestige College (tweede), Waterkloof (vierde), Garsfontein (sesde), Zwartkop (agtste), Midstream College (elfde), Montana (dertiende) en Akasia (twintigste).
Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) se seunsspan het die seuns-afdeling redelik maklik gewen, terwyl Afrikaans Hoër Meisieskool in die tweede plek ná Menlopark geëindig het.
Volgens die organiseerders is dit nie ’n uitgemaakte saak dat slegs 20 plaaslike skole tussen die 40 skole sal wees wat vir die finale byeenkoms in Februarie volgende jaar kwalifiseer nie. Dié finale groep sal op meriete uitgesoek word, wat beteken ander skole wat laer op die puntelys in Pretoria geëindig het, ook sal kan kwalifiseer afhangende van hul vergelyking met die skole by die suidelike streek se uitdunrondte.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





























