Oud Blou Bulle hou weer makietie
Die Blou Bulle Rugby Trust se bekende jaarlikse Rugby Makietie is die afgelope naweek weer met groot sukses in Pretoria aangebied.
Die Blou Bulle Rugby Trust het die afgelope naweek hul 22ste jaarlikse Rugby-funksie by Utopia Place in die ooste van Pretoria aangebied.
Soos altyd was dié funksie ’n baie spesiale geleentheid vir alle lede van die publiek om een dag in die jaar saam met verskeie legendes van Noord-Transvaal- en Bloubulrugby te kuier.
Lede van die publiek of maatskappye kon tafels bestreek by die funksie, wat vanjaar vir die eerste keer in die formaat van ’n laat ontbyt (brunch) aangebied is. By elke tafel het ’n oud-Springbok of oud-Bloubul legende saam met die gaste gekuier.
Met die bekende rugby kommentator, Hugh Bladen, as seremoniemeester, het die funksie sommer vroeg in die regte gees vir rugby-liefhebbers afgeskop.
Na die ete het die gaste almal saam op twee reuse skerms na die toets tussen die Springbokke en die All Blacks by die wêreldbeker toernooi in Japan gekyk.
Na afloop van die rugby-aksie in Japan het twee van die heel grootste Bloubul legendes, Frik du Preez en Thys Lourens, saam met Bladen aan ’n paneelbespreking deelgeneem. Daar is eers kortliks ’n paar opmerkings oor die oggend se wedstryd in Japan gemaak, waarna die gees weer meer positief geword het met staaltjies uit die ou dae deur Du Preez en Lourens, wat die gaste aan hul lippe laat hang het.
Uiteindelik het Pretoria se bekende gholf-avonturier, wat ook as professionele afslaer by sportfunksies optree, Heinrich du Preez, ’n groot verskeidenheid memorabilia namens die trust opgeveil. Op hierdie manier is ’n stewige ekstra betrag geld by die funksie ingesamel.
Die hoofdoel van die Blou Bulle Rugby Trust se bedrywighede is om geld in te samel waarmee behoeftige oud Blou Bulle van die verlede bygestaan word, hoofsaaklik om mediese kostes te dek.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


