Nuwe organisasie wil armdruk as sportsoort uitbou in Suid-Afrika
’n Nuwe organisasie, wat in Pretoria gesetel is, beplan om armdruk as sportsoort in Suid-Afrika tot op internasionale standaard uit te bou.
Hoewel armdruk as georganiseerde sportsoort tans nie in Suid-Afrika op groot skaal bedryf word nie, is dit reg oor die wêreld besonder gewild.
’n Pretorianer met ’n groot voorliefde en passie vir dié sport glo egter dat armdruk dramaties in gewildheid sal toeneem as dit meer georganiseerd aangebied word en dít is presies wat hy en sy organisasie beplan.
Armand du Toit, wat reeds sedert 2001 by georganiseerde armdruk in Suid-Afrika betrokke is, het nou die Golden Arms armdruk-organisasie op die been gebring om dié sport in Suid-Afrika te probeer uitbou.
Hy glo dat armdruk groot potensiaal het om in Suid-Afrika ’n baie gewilde sportsoort te word.
Du Toit het onlangs sy organisasie by die Internasionale Federasie vir Armdruk (IFA) geaffilieer en daarmee die bal aan die rol gesit vir die groot planne wat hulle met dié sport in Suid-Afrika het.
https://www.facebook.com/WorldArmwrestlingLeague/videos/304121980415810/
Golden Arms sal eersdaags begin met streekskompetisies, waarby al die provinsies betrokke sal wees en uitdunne gehou sal word vir ’n nasionale eindrondte. Datums vir hierdie kompetisies sal binnekort bekendgemaak word. Daar sal ook uitdunne in Pretoria plaasvind en Du Toit beplan om dit in die vorm van uitdaagkompetisies regoor die stad aan te bied.
Prysgeld van R50 000 sal ter sprake wees by die nasionale eindstryd van hierdie kompetisie. Deelnemers sal ook die geleentheid kry om in aanmerking te kom vir ’n nasionale span, wat vroeg in Desembermaand vanjaar (3-9 Desember) aan die IFA se amateur kampioenskap in Pole deel sal neem.
Die streekskompetisies sal plaasvind by geselekteerde plekke. Wenners van hierdie kompetisies sal dan op provinsiale grondslag deurdring na die nasionale eindrondte.
Golden Arms het reeds ’n ooreenkoms met Sun Internasional gesluit en die beplanning is dat byeenkomste in 2020 in samewerking met dié maatskappy op ’n baie hoër vlak aangebied sal word.
Vir 2020 word vier professionele “Top 12” kompetisies beplan, waarna die nasionale eindrondte sal plaasvind.
https://www.facebook.com/WorldArmwrestlingLeague/videos/507371536693920/
In samewerking met die beroemde Amerikaanse armdruk legende, Michael Todd, beplan Golden Arms ook ’n Top 8 Internasionale kompetisie waar Suid-Afrikaanse armdrukkers die geleentheid sal kry om op internasionale vlak te kompeteer.
Volgens Du Toit is verskeie borge ook reeds aan boord om dié sportsoort in Suid-Afrika te ondersteun en te help met die bouproses.
Intussen beplan Golden Arms om by die komende wêreldkampioenskap ’n bod in te dien om die wêreldkampioenskapsbyeenkoms van 2021 hier in Suid-Afrika aan te bied.
Alle belangstellendes, mans, vroue, juniors, meesters en paraplegiese atlete – links- of regshandig – wat belangstel om deel te neem, kan na die die nuwe organisasie se Facebook blad besoek by Golden Arms Armwrestling & Promotions.
Meer besonderhede oor die beplande streekskompetisies sal binnekort daar gepubliseer word. Belangstellendes kan ook vir Armand du Toit kontak by 072-201-5860.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
