Nuwe plaaslike sewesrugby toernooi ’n groot sukses
Pretoria het ’n splinternuwe sewesrugby toernooi gekry en die eerste aanbieding van dié sewesrugby fees was ’n reuse sukses op die veld en van die veld af.

Te midde van ’n redelike besige sewesrugby seisoen, het Pretoria se nuutste sewesrugby toernooi, die Zavava 7’s Rugby Festival, onlangs by die Harlequins klub in Groenkloof, Pretoria, plaasgevind.
Hierdie toernooi is aangebied deur die nuutgestigte Zabava organisasie, wat spesialiseer in sport en vermaaklikheidsgeleenthede. Die toernooi was uit die staanspoor ’n reuse sukses en het 25 mans spanne en vier vrouespanne gelok.
Sewesrugby word jaarliks gewilder, veral weens die sport se wêreldwye profiel wat ook groei.
In die vroue-afdeling het die span van Naka Bulle die bekende en ervare span van Tukkies groot laat skrik in die eindstryd. Hoewel daar vooraf aanvaar is dat Tukkies dié afdeling maklik sou wen, moes die studente-meisies hard veg om uiteindelik met 26-10 teen die meisies van die Moot te wen.
In die mans afdelings het klubs vanuit vier verskillende rugby-provinsies spanne ingeskryf, terwyl verskeie spesialis sewesrugby akademies ook deel was van die aksie. Dit het veroorsaak dat die kompetisie in al die verskillende ligas besonder straf was.
Daar was spanne uit Mpumalanga, die Oos-Rand, Johannesburg en Noordwes. Hierdie spanne het ingeskryf in een van die drie ligas, naamlik die Beker-afdeling, en twee sosiale ligas. Enkele koshuise van Tukkies is ook verteenwoordig in die sosiale ligas.
Die kompetisie in die Beker-afdeling was baie straf en kon waarskynlik vergelyk met die beste in enige sewesrugby toernooi in Suid-Afrika. In hierdie liga is Naka Bulle se Buffels as die kampioene gekroon, nadat hulle die All Stars met 24-19 in die eindstryd geklop het.
In die eindstryd van die plaatkompetisie het Centurion se top span met QBR se Blue Quins afgereken. Die eindtelling was ook 24-19 in die manne van Centurion se guns.
Die eerste sosiale liga is gewen deur die span van Roodepoort, wat die Warriors met 12-0 geklop het in die eindstryd.
Tukkies se De Goede Hoop koshuis het die tweede sosiale liga gewen, nadat hulle die Jaguars met 26-7 in die eindstryd kafgedraf het.
’n Skopkompetisie, waarmee ’n groot kontantprys deur enige vrywillige deelnemer losgeslaan kon word, was ook deel van dievermaak tydens die toernooi.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



