Local sportSport

Radikale deurbraak vir plaaslike rugby-instituut

Die Internasionale Rugby Instituut (IRI), wat verbonde is aan die Naka Bulle Rugbyklub, gaan volgende jaar in samewerking met twee gerespekteerde instansies hul kurrikulum uitbou om aan studente ook alternatiewe keuses ten opsigte van beroepsopleiding te gee.

Die bekende Internasionale Rugby Instituut (IRI), wat die afgelope paar jaar by die Naka Bulle Rugbyklub gesetel is, het onlangs ’n deurbraak gemaak waarmee hulle weer baanbrekerswerk doen vir soortgelyke organisasies en rugby-akademies.

Die IRI het bekendheid verwerf vir hul sukses om rugbyspelers te produseer wat uit klubgeledere goed genoeg opgelei en afgerig word om uiteindelik provinsiaal en selfs internasionaal deurbrake te maak.

Behalwe vir die wyse waarop studente vir hul vertoning op die rugbyveld – en ook in ander rugbyverwante aspekte – opgelei en afgerig word, beskik dié instituut oor personeel met genoeg ervaring en kennis om studente ook as individue te ontwikkel vir die lewe na hul rugbydae as spelers.

Verskeie studente van die IRI het sedert 2015 geleenthede gekry om via dié instituut op junior- en senior vlak provinsiale rugby te speel.

Die bestuur van die IRI het egter ’n leemte in die stelsel van die meeste rugby-akademies geïdentifiseer, veral ten opsigte van instansies waar studente nie noodwendig in ’n suiwer akademiese kwalifikasie op tersiêre vlak belangstel nie.

Om hierdie leemte te vul het die IRI nou hande gevat met twee gerespekteerde instansies. Dié samewerking maak dit vir IRI studente moontlik om, terwyl hulle steeds deel is van die instituut se rugbyprogram, ook te kan inskryf vir ander naskoolse kwalifikasies. In hierdie opsig sal studente die keuse hê om in te skryf vir enige van verskeie sertifikaatkursusse van The Elite Consulting Group (T.E.C) òf vir een van twee ambagte by die gerekende PCD College, wat spesialiseer in die opleiding van loodgieters en elektrisiëns.

Nasionale eenjaar-sertifikate in bestuurswese, projekbestuur en besigheidsadministrasie dienste is van die kursusse ter sprake by die T.E.C. Groep se opsies, terwyl dié instansie ook ’n wye veskeidenheid ander kursusse aanbied.

Volgens Marinus van der Watt van die IRI het hulle die behoefte geïdentifiseer dat studente tydens hul betrokkenheid by dié instituut, naas al die gespesialiseerde rugbyverwante opleiding, ook ander opleiding moet kan ontvang om hul voor te berei vir ’n loopbaan weg van die sportveld.

Van der Watt het by die bekendstelling van hierdie uitbreiding van die instituut se kurrikulum verduidelik dat studente van die IRI vanaf 2020 aanvanklik vir drie maande op ’n rugby-program sal fokus om hul vir die seisoen voor te berei, waarna hulle sal begin met hul studies in die kursus van hul keuse. Dié studies sal dan daarna gesamentlik met die kurrikulum van die IRI in studente se program geïntegreer word.

“Hierdie is na ons mening ’n alternatief vir studente wat nie noodwendig by ’n konvensionele universiteit wil inskryf nie, maar in terme van beroepsopleiding ook nie by tydgenote agter wil raak nie”, het Van der Watt verduidelik.

Dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, wat ook die bekendstelling van die nuwe IRI kurrikulum bygewoon het, beskou dit as ’n baie positiewe stap.

“Rugby het verander in terme van SA Rugby se nuwe kontrakteringsmodel en spelers gaan binnekort nie meer professionele kontrakte direk na skool ontvang nie. Daarom is dit goed dat spelers so gou moontlik na skool voorberei word vir die lewe na rugby, terwyl hulle steeds deel is van ’n intensiewe program soos dié van die IRI. Dis in elk geval my waarneming dat spelers wat studeer oor die algemeen meer gedissiplineerd is as spelers wat net op rugby konsentreer,” het Hare gesê.

Volgens Lee Gouws van T.E.C. konsentreer sy organisasie ook in ’n wye verskeidenheid ander opleidingsmoontlikhede, wat almal beroepsgeörenteerd is.

Savva Antoniades, direkteur van PCD College, het gesê dié organisaise het reeds toekennings ontvang as die beste van sy soort in Suid-Afrika. Dié kollege is ten volle geakkrediteer om volledige opleiding, wat wêreldwyd erken word, aan voornemende ambagsmanne te verskaf.

Vir meer besonderhede, besoek die IRI se webwerf by https://www.internationalrugbyinstitute.com

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button