Centurion Rugbyklub bied reuse potjiekos-feesdag aan
Die Centurion Rugbyklub beplan op 16 November ‘n reuse potjiekos fees, waartydens 120 spanne met mekaar gaan meeding om groot pryse.

Die Centurion Rugbyklub gaan op Saterdag 16 November vanjaar poog om die grootste potjiekos kompetisie wat dié voorstad ooit beleef het op die klub se terrein aan te bied.
Vir hierdie reuse projek vat dié rugbyklub hande met Club 21, ’n nie-winsgewende leersentrum wat spesialiseer in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down sindroom. Dié sentrum is ’n klipgooi van die rugbyklub af geleë.
Volgens Wessel Steyn, hoof organiseerder van die potjiekos-fees – waarin groot pryse op die spel is vir die wenners – sal die dag ook die formaat van ’n pretdag vir die hele gesin aanneem. Verskeie ander vermaak-items word beplan, terwyl amptelike deelnemende spanne aan die potjiekos kompetisie hul stalletjies ook as bemarkingsgeleentheid kan gebruik.
“Ons wil hierdie dag graag vestig as ’n jaarlikse instelling waardeur die gemeenskap van Centurion hande kan vat om hul deel vir liefdadigheid te doen. Daar gaan oorgenoeg vermaak vir die kinders wees. Dit sal onder andere insluit springkastele en gesiggieverf-stalletjies,” het Steyn verduidelik.
Volgens Steyn word daar voorsiening gemaak vir 120 potjiekos stalletjies op die klub se terrein, waar deelnemende spanne teen 10:00 die oggend sal kan begin om hul potte aan die kook te kry. Elke span mag ’n maksimum van vier amptelike kokke hê.
Die finale beoordeling van die potjies sal om 15:00 plaasvind.
Daar sal ook voorsiening gemaak word vir algemene vermaak in die vorm van bekende gaskunstenaars wat op ’n verhoog sal optree om by te dra tot die feestelike atmosfeer. Verder sal die klub se kroeg tot die beskikking van feesgangers wees, terwyl ander kosstalletjies deur die loop van die dag ook aan die besoekers se behoeftes sal voldoen.
Steyn sê hulle beoog om hul verhouding met Club 21 uit te brei na afloop van die potjiekos fees.
“Hoewel die kinders met Down sindroom nie amptelike kontak-rugby kan speel nie, is hulle tog mal oor die sport. Hulle blink reeds uit in atletiek, swem en tafeltennis, maar ons wil by die klub aan hulle die geleentheid bied om hul liefde vir rugby uit te leef deur hulle aan raakrugby bloot te stel,” het Steyn gesê.
Vir meer besonderhede oor dié potjiekos feesdag of om ’n span in te skryf, kontak Wessel Steyn by 063-174-9421.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
