Local sportSport

Noord-Gauteng Stoei vier nóg ‘n jaar van sukses

Tydens die onlangse jaarlikse meriete toekenningsgeleentheid van die Noord-Gauteng Stoeivereniging was dit weer duidelik dat dié organisasie oor Suid-Afrika se beste stoeiers beskik.

Pretoria bly steeds die tuiste van Suid-Afrika se beste stoeiers en as daar nóg ’n provinsiale stoeivereniging in die land is met méér aktiewe klubs en groter kompetisie tussen dié klubs, sal hulle dit eers vir die stoeigemeenskap van Pretoria moet bewys.

Dít is die enigste gevolgtrekking wat ’n mens kan maak ná verlede week se spoggerige jaarlikse meriete toekenningsgeleentheid van die Noord-Gauteng Stoeivereniging, wat vanjaar in dié vereniging se eie saal in Menlopark aangebied is.

Met die gebruik van hul eie geriewe kon Noord-Gauteng Stoei vanjaar dié spogfunksie goedkoper en meer toeganklik vir ’n groter getal mense uit die stoeigemeenskap aanbied.

Stoeiers en hul families het egter oudergewoonte swierlik fees gevier om nóg ’n jaar van sukses op die stoeimat te gedenk.

Nadat ’n groot groep stoeiers deur Noord-Gauteng Stoei vereer is met verskillende vlakke van meriete-kleure, kon die stryd tussen die vereniging se klubs ook op die voorgrond gebring word.

Dit was oudergewoonte ’n baie taai stryd, waarin veral vier klubs op elke ouderdomsvlak na vore getree het.  Die stoeiklubs van Centurion, Menlopark, Tuks en Reitz was almal prominent in die styl trofees, maar uiteindelik is Centurion weer aangewys as Noord-Gauteng Stoei se beste klub vir 2019. Tuks was in die tweede plek, met Menlopark in die derde plek.

In die afdeling vir Noord-Gauteng Stoei se liga het Tuks die bordjies verhang, met Centurion tweede en Menlopark derde.

Tydens die hoogtepunt vir individuele presteerders is die organisasie se beste stoeiers in elke ouderdomsgroep in beide Vrystyl en die Grieks-Romeinse styl aangewys. Met hierdie toekennings het ’n mens bewus geword dat stoei as sportsoort al hoe meer internasionale geleenthede skep vir presteerders. Twee van die ontvangers van trofees as stoeiers van die jaar in hul afdelings, Matthew Bartlett en Edrich Nortjé, studeer deesdae in Amerika danksy stoei-beurse.

Die Gauteng Noord Bulls span het ook die Noordvaal kompetisie vanjaar vir die 16de jaar agtereenvolgens gewen. Daarmee het hulle dié provinsie se oorheersing van stoei in die noordelike deel van die land onderstreep.

Noord-Gauteng Stoei se meersters (ouer as 35) was weer vanjaar die organisasie se top presteerders op internasionale vlak en verskeie van dié veterane is ook tydens die funksie vereer. Onder hulle het die merkwaardige Willem Putter weer uitgestaan.

Putter, wat vanjaar sy 25ste jaar as meester stoeier gevier het, het vanjaar in Pole aan die wêreldkampioenskap vir meesters ouer as 60 deelgeneem. Niemand was verbaas toe hy met twee goue medaljes as wêreldkampioen in Vrystyl én Grieks Romeinse styl teruggekeer het nie.

In Putter se uitstaande loopbaan as meester stoeier het hy nou reeds 13 goue medaljes, ses silwermedaljes en een brons medalje by wêreldkampioenskappe ingepalm. Dit het dus niemand verbaas toe hy wéér as Stoei Gauteng Noord se meester stoeier van die jaar aangewys is nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button