Centurion Rugbyklub bied reuse potjiekos-feesdag aan
Die Centurion Rugbyklub se reuse potjiekos fees sal eerskomende Saterdag by die klub aangebied word ten bate van ‘n Down sindroom leersentrum in Centurion.

Die rugbyseisoen is nou amptelik verby en die Springbokke is weer wêreldkampioene, maar eerskomende Saterdag kry inwoners van Centurion en omgewing vir oulaas die kans om in 2019 te kom feesvier by die Centurion rugbyklub.
Dié klub se potjiekos fees word Saterdag op die klubterrein aangebied. Hierdie projek word aangebied in samewerking met Club 21, ’n nie-winsgewende leersentrum wat spesialiseer in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down sindroom. Dié sentrum is ook in Centurion geleë, slegs ’n paar kilometer vanaf die rugbyklub.
Groot pryse is op die spel in die potjiekos kompetisie, wat amptelik om 10:00 sal begin wanneer deelnemers se vure aangesteek gaan word. Volgens Wessel Steyn, hoof organiseerder van die kompetisie, is daar nog tot Vrydag geleentheid vir laatslapers wat graag wil inskryf vir die kompetisie om as Centurion se potjiekos kampioen gekroon te word.
Elke span mag ’n maksimum van vier amptelike kokke hê en korporatiewe spanne is welkom om hulself by hul stalletjies te bemark. Die finale beoordeling van die potjies sal om 15:00 plaasvind.
Saterdag se fees gaan egter oor meer as net die potjiekos kompetisie. Die klub se hekke open reeds om 07:00 en feesgangers sal heeldag vermaak word, terwyl ander kosstalletjies die mae sal vol hou deur die loop van die dag.
Ingang by die terrein is gratis vir die publiek en verskeie kunstenaars sal deur die loop van die dag die feesgangers vermaak, terwyl die klub se kroeg ook oop sal wees.
’n Kindervriendelike afdeling sal beskikbaar wees, waar jonger kinders besig gehou sal word met springkastele, gesiggieverf en ander vermaak. Kinders sal ook die geleentheid kry om die Blou Bulle se gewilde gelukbringer, Bulletjie, te ontmoet.
Vir meer besonderhede oor dié potjiekos feesdag of om ’n span in te skryf, kontak Jaco by 072-054-1109 of per epos by events.crk@gmail.com of Wessel Steyn by 063-174-9421.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
