Local sportSport

Sukses in Amerika vir Pretoria se top veld-wedloper

‘n Ultra veldwedloop atleet van Centurion het onlangs ‘n skitternede derde plek uit 120 atlete behaal in een van die wêreld se moordendste ultra veldwedlope oor 240 myl.

Die meeste sofapokkels, wat sal sukkel om ’n 5km pret-wedloop te voltooi – selfs al kan hulle dit ook as stappers aandurf – beskou waarskynlik ’n ultra-marathon soos die jaarlikse Comrades marathon as die grootste uitdaging wat enige atleet kan aandurf.

Diegene wat daar op die rusbank sit en droom om eendag, miskien, ook die 89km tussen Durban en Pietermaritzbuurg te voltooi, sal egter verbaas wees om te hoor dat daar atlete is vir wie ’n wedloop soos die Comrders nie meer uitdagend genoeg is nie.

Welkom in die wêreld van Bennie Roux, sakeman van Centurion, eggenoot van Isabel en pa van drie jong seuns. Hy is waarskynlik Suid-Afrika se top veldwedloper – op Engels bekend as ’n “Trail Runner”.

In dié sportsoort, wat die afgelope dekade baie gewild geword het onder avontuurlustige atlete, hardloop deelnemers in die natuur op verskillende roetes, wat ongerepte oppervlaktes kan insluit. Bospaadjies, sanderige- of klipperige oppervaktes en selfs hindernisse soos water kan alles voorkom op roetes van veldwedlope.

Vir Roux, wat as skoolseun eerder as fietsryer uitgeblink het, was ultra-marathons soos die Comrades aanvanklik ook ’n uitdaging. Na sy skooldae in Reitz in die Vrystaat het hy aan die Universiteit van Pretoria kom studeer.

As gefrustreerde kantoorwerker wat daargliks té veel met rekenaars en somme besig was, het Roux aan padwedlope begin deelneem as uitlaatklep vir sy frustrasies.

Bennie Roux wys trots sy wedloop nommer kort nadat hy vir die Moab 240 myl veldwedloop in Utah geregistreer het.
Foto: Verskaf

In 2000 voltooi hy sy eerste Comrades in meer as 10 ure. Die hardloop-gogga het daarna behoorlik gebyt en intussen het hy nóg tien Comrades marathons kafgedraf, waaronder ’n paar waarin hy ’n silwer medalje verower het.

Hy het vyf keer die Twee Oseane ultra-marathon voltooi en in dié wedloop ook ’n silwer medalje losgehardloop.

Na byna ’n dekade op die pad as marathon- en ultra-marathon atleet, is Roux deur vriende aan veldwedlope bekendgestel. Hy het onmiddellik op dié nuwe formaat van die hardloopsport verlief geraak.

Die meeste van die ultra-veldwedlope word oor verskeie dae aangebied en atlete kry kans om by waterpunte en ruskampe oor te slaap. Atlete sorg gewoonlik vir hul eie kos, wat hulle in ’n rugsak saam moet dra, terwyl slaapplek en water by ruskampe verskaf word.

Intussen het hy reeds al Suid-Afrika se belangrikste ultra veldwedlope voltooi. Daar is die Sky-Run in Lady Grey in die Oos-Kaap wat strek oor 100km aan die voet van die Witteberge langs die Lesotho grens. Dan die Otter African Trail Run oor die afstand van ’n standaard marathon (42km) in die Tsitsikamma Nasionale Park in die Suid-Kaap. In die Oos-Kaap is daar die Addo Olifant veldwedloop oor 100 myl en in die Wes-Kaap word die Ultra Trail Cape Town oor 100km aangebied.

Laasgenoemde word – anders as die Twee Oseane marathon – nie padlangs nie, maar met bergpadjies langs bo-oor die berge en deur ongerepte natuur in die Kaapse Skiereiland aangebied.

Roux het ook al met die moordende Kalahari Augrabies ultra-veldwedloop oor 250km afgereken. In die Suide van Namibië het hy die afgelope twee jaar podium-plekke behaal in die Visrivier Canyon ultra-veldwedloop.

Die Munga veldweloop in Mpumalanga, wat oor vyf dae en 400km tussen Belfast en die Blyderivier Canyon naby Graskop beslis word, is die wedloop wat van Roux ’n legende in dié sport gemaak het.   Hy word met reg as die Koning van die Munga beskou, nadat hy dié wedloop sedert 2017 drie jaar agtereenvolgens gewen het.

Een van die deelnemers aan vanjaar se Moab 240 was die beroemde Amerikaner, David Goggins. Hier is hy saam met Bennie Roux (regs) kort voor die wedloop.
Foto: Verskaf

Na sy oorwinning in vanjaar se Munga is Roux uitgenooi om aan een van die wêreld se beroemdste veldwedlope, die Gobi woestynwedloop in die noorde van China, deel te neem.

Al sy voorbereiding was getref en hy was gereed om na China te vertrek toe die slegte nuus egter deurkom dat die Chinese regering sonder enige behoorlike verduideliking alle buitelanders se deelname aan die Gobi gestop het en dat visums gekanselleer is.

Die teleurstelling was groot om so op die nippertjie te moes hoor sy droom om die Gobi aan te durf sou nie meer kon realiseer nie.

Kort daarna het Roux egter weer goeie nuus gekry toe hy ’n uitnodiging ontvang het om in Oktober vajaar aan die Moab 240myl veldwedloop in die Amerikaanse staat Utah te gaan deelneem. Dié veldwedloop word hoofsaaklik oor berg- en woestydagtige terrein langs die Colorado rivier en deur die Abajo gebergtes oor ’n tydperk van vyf dae afgehandel.

’n Totaal van 122 atlete het vanjaar aan die Moab 240 myl deelgeneem en Roux het met sy skitterende derde plek in dié internasionele wedloop bewys dat hy ’n veldwedloper van wêreldgehalte is.

Volgens sy eie getuienis was dit een van die moeilikste wedlope waaraan hy nog deelgeneem het. Uiterste temperature (warm bedags en baie koud in die nag) het sake vererger en Roux erken dat hierdie wedloop hom fisiek en geestelik tot die uiterste beproef het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button