Centurion Rugbyklub se potjiekos-fees bring gemeenskap bymekaar
Die Centurion Rugbyklub en Club 21 se potjiekosfees het Saterdag in perfekte somerweer vir groot pret en plesier én lekker-eet gesorg.

Daar was Saterdagmiddag hitte, vuur en rook op die rugbyveld van die Centurion Rugbyklub, maar hierdie keer het dit niks te doen gehad met die gevaarlike pak voorspelers van dié klub se eerstespan wat die vuur stook in ’n wedstryd teen een van hul teenstanders nie.
Die hitte en vuur het Saterdag gekom van die draagbare gasstofies wat deelnemende spanne gebruik het om hul pot-brousels gaar te kry as deel van Centurion Rugbyklub se potjiekos-fees.
Die klub se A-veld is omskep in ’n kleurryke skouspel van verskillende gazebo’s en tente, wat die deelnemers aan die kompetisie gehuisves het.
Terwyl kunstenaars en ’n platejoggie regdeur die dag vermaak aan gaste van die fees verskaf het, kon die ingeskrewe spanne – elk bestaande uit vier kokke – hul geheime resepte inspan om te probeer om as die beste potjiekos kokke gekroon te word.
Hoewel elke ingeskrewe span volgens die reëls van die kompetsie slegs uit vier amptelike kokke bestaan het, was daar geen gebrek aan ondersteuners vir die spanne nie. Dit het bygedra tot die gesellige atmosfeer van die fees, waar heerlik gekuier is by elke stalletjie.
Intussen het ’n span vrywilligers elders op die veld die jong kinders besig gehou met springkastele, speletjies en gesiggieverf.
Die potjiekosfees is deur die Centurion Rugbyklub aangebied in samewerking met Club 21, ’n nie-winsgewende leersentrum wat spesialiseer in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down sindroom. Club 21 sal ook die vernaamste voordeel trek uit die fondse wat met die potjiekosfees ingesamel is.
Aan die einde van die dag het ’n span beoordelaars, bestaande uit gemeenskapsleiers en koskenners, elke stalletjie besoek om die potjiekos geregte een vir een te proe en te beoordeel.
Uiteindelik is die drie beste potjies bekroon, terwyl daar ook twee ander pryse op die spel was – dié vir die beste en mooiste stalletjie en dié vir die stalletjie met die beste gees.
Die span van Equal Career Services (ECS) het twee pryse gewen. Eerstens is hulle aangewys as die stalletjie met die beste gees, terwyl die kokke van ECS se stalletjie ook weggestap het met die derde plek vir hul potjiekos-resep.
Daar is ook ’n prys toegeken vir die mooiste en beste stalletjie, op grond van hul aanbieding op die terrein. Dié prys is toegeken aan die span van die eiendomsagentskap Chas Everitt, wat besonder baie moeite gedoen het met hul stalletjie.
Club 21 se eie span kokke is deur die onafhanklike beoordelaars aangewys as wenners van die tweede prys.
Die algehele wenner van die kompetisie was die span van Centurion se Jeugrugby Klub.
Volgens Wessel Steyn, hooforganiseerder van die potjiekosfees is hulle tevrede met die sukses van dié inisiatief. Hulle beoog om dit ’n jaarlikse instelling te maak, maar weens die besige sosiale skedule van die meeste mense in Novembermaand, beoog hulle om die fees vanaf volgende jaar eerder voeër in die jaar aan te bied.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









