Local sportSport

Sakemanne neem beheer van Blou Bulle ná finansiële druk-situasie

Twee van Suid-Afrika se rykste sakemanne het verlede week beheer verkry oor die Blou Bulle Maatskappy en hulle sal dus in die toekoms die septer swaai op Loftus Versfeld.

’n Nuwe era in die roemryke geskiedenis van Bloubul rugby het verlede week aangebreek toe rugby-administrateurs finaal beheer verloor het oor die doen en late van die Blou Bulle Maatskappy (BBM).

Met ’n gesamentlike aandeel van 74% sal twee van Suid-Afrika se grootste sakemagnate, Johan Rupert (via Remgro) en Patrice Motsepe (via African Rainbow Capital of ARC) nou in beheer wees van die belangrike besluite oor die doen en late van Bloubul rugby se professionele vleuel.

Dit volg nadat die Uitvoerende Raad van die Bloubul Rugby Unie (BBRU) verelde week ’n gesamentlike aanbod van ARC en Remgro goedgekeur het, waardeur Motsepe se groep 37% van die BBM sal koop. In die proses sal Remgro 13% van sy huidige belang in die BBM afstaan, wat sal beteken dat hy ook uiteindelik 37% sal besit, terwyl die BBRU 24% van sy huidige 50% sal verkoop, om dan ’n minderheidsaandeelhouer met 26% belang in die BBM te word.

Motsepe, wat reeds die eienaar is van die Mamelodi Sundowns sokkerklub, maak hiermee ook ’n deurbraak in rugbyadministrasie.

Hierdie verwikkelinge is hoofsaaklik die gevolg van verskeie faktore.

Die grootste hiervan is waarskynlik die huidige druk waaronder rugby in Suid-Afrika bedryf moet word, terwyl die Suid-Afrikaanse ekomonie agteruitboer en die swak waarde van die rand al hoe meer rugby-supersterre én afrigters agter die aanloklike geldaanbiedings van Europa en Japan aan laat trek.

Loftus Versfeld bly volgens die nuwe bedeling steeds die eiendom van die Blou Bulle Rugby Unie, maar ‘n aandeelhouer in die Blou Bulle Maatskappy soos Patrice Motsepe sal die stadion kan gebruik om ‘n groter inkomste te genereer.

Professionele rugby het eenvoudig te duur geword vir Suid-Afrika se top rugby-unies. Daarby word stadions al hoe leër weens die publiek se stelselmatige onvermoë om kaartjiepryse te kan bekostig. Die tradisionele rugbypubliek, wat die sport se profiel in Suid-Afrika gebou het in die verlede, se huidige gebrek aan belangstelling weens al hierdie faktore is ook ’n groot faktor wat die inkomstestrome van rugby-unies baie seer gemaak het.

Politieke inmenging en -druk op die Suid-Afrikaanse rugbystelsel maak die bestuur van rugby nóg meer uitdagend en gee aan buitelandse meedingers natuurlik ’n verdere onregverdige voordeel, terwyl dit beslis ook ’n invloed op plaaslike unies se begrotings het. Toeskouer-bywoningsyfers van voormalige top toernooie soos die Curriebekerreeks is hiervan ’n onteenseglike getuie.

Dan was daar ook die ernstige leemtes in die bestuur van Bloubul rugby die afgelope dekade. Dis geen geheim dat die BBM sedert verlede jaar onder onhoudbare finansiële druk verkeer nie. Hierdie situasie is grootliks geskep deur wanbestuur van fondse en moontlike korrupsie, bedrog en diefstal in veral die hoëprestasie departement van die maatskappy. Dié saak is tans nog onderhewig aan ’n forensiese ondersoek en ernstige optrede deur die nasionale vervolgingsgesag is ’n sterk moontlikheid.

Ongelukkg is die realiteit wat deur bogenoemde gebeure geskep is dat die BBM se finansiële state van 2018 steeds nie afgeteken kan word nie, terwyl ’n verlies ook vir die huidige boekjaar in die vooruitsig gestel word. Al hierdie negatiewe nuus beteken uiteindelik dat die BBM dringend finansiële hulp moet kry, òf die risiko loop om insolvent verklaar te word.

Met die kontant-inspuiting van hierdie ooreenkoms beplan die BBRU en die BBM om al hul finansiele verpligtinge te kan nakom tot aan die einde van 2021, die jaar wanneer die Britse en Ierse Leeus Suid-Afrika weer besoek. Daar word geglo dat die verhouding en “nuwe belange” wat die vennootskap sal bring, die BBRU en BBM vanaf 2022 in staat sal stel om nuwe inkomstebronne te skep, waarmee daar dan finansieel oorleef sal kan word.

As deel van die verpligtinge wat nagekom moet word, word nodige instandhoudingswerk by Loftus Versfeld ook in die vooruitsig gestel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button