Drie plaaslike jeugrugby spanne toer na Kalifornieë
Na verskeie suksesvolle toere na sewesrugby toernooie in die VSA, sal drie spanne uit Pretoria kort na Kersfees vertrek op ’n toer na Kalifornieë, om deel te neem aan die World Youth Rugby Festival se vyftieman rugbytoernooi.
Groot opgewondenheid het verlede week geheers by ’n restaurant in die ooste van Pretoria, toe drie plaaslike jeugrugby spanne amptelik hul uitrusting ontvang het vir hul komende toer na Amerika.
Dié drie spanne, bestaande uit o.13, o.16 en o.19 spelers, is hoofsaaklik saamgestel uit spanne van die Blou Bulle se jeugklubs en sal onafhanklik onder die vaandel van die Kudu’s gaan toer.
Hulle is ingeskryf om tussen 26 Desember vanjaar en 7 Januarie 2020 deel te neem aan die World Youth Rugby Festival, wat in Kalifiornieë in die VSA sal plaasvind.
Die toerleier en bekende rugby-administrateur, Richard Janse van Rensburg, het aan Rekord gesê dat hierdie toer hul eerste is om aan vyftienman-rugby deel te neem. Hy was egter al by verskeie toere betrokke na die VSA, waar spanne aan sewesrugby toernooie deelgeneem het.
Volgens Janse van Rensburg sal die drie plaaslike spanne by die toernooi meeding met spanne vanoor Amerika, asook uit Kanada.
Hy het gesê die seuns sal ook tyd kry om as deel van hul toerplan besienswaardighede soos die beroemde Disneyland se besoek.
Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie, het ook die uitrusting-seremonie bygewoon. Hy het gesê hierdie toer is ’n besondere geleentheid vir die seuns om aan rugby op internasionale vlak blootgestel te word.
Strauss het daarop gewys dat verskeie werwingsagente van Amerikaanse universiteite die toernooi sal bywoon en dat die kans baie goed is dat veral seuns in die o.19 span aanbiedings kan kry uit dié geledere. Strauss was as rugbypromotor in die verlede betrokke by verskeie toere van plaaslike spanne na sewesrugby toernooie in die VSA en volgens hom het sulke toere reeds verskeie seuns se lewens verander wanneer hulle aanbiedings kry om met sportbeurse in Amerika te studeer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


