Bulls kan weer SA se top span wees in SuperRugby
Hoewel baie Bulls ondersteuners nie veel hoop het vir hul span in vanjaar se SuperRugby reeks ná hoëprofiel verliese nie, kan Pote Human se manne vanjaar baie doemprofete verras.
Baie ondersteuners van die Bulls is oortuig dat die span vanjaar nie weer in staat sal wees om hul vertoning van 2019 in die SuperRugby toernooi te ewenaar nie.
Hierdie kommer spruit hoofsaaklik uit die feit dat die hart uit die span van 2019 se enjinkamer geruk is, terwyl die generaal agter dié dominerende pak voorspelers, Handré Pollard, ook nie weer beskikbaar is nie.
Die Bulls het immers drie Springbbok slotte (Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins) verloor, terwyl invloedryke manne soos Duane Vermeulen en Schalk Brits ook die unie verlaat het.
Saam met Pollard het die Bulls agterlangs die dienste van die staatmaker Springbok senter, Jesse Kriel, verloor.
Om alles te kroon sal die span se twee Springbok stutte, Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka, albei weens beserings die eerste paar wedstryde van die reeks vanjaar misloop.
Daar word geglo dat Pote Human van vooraf ’n span sal moet bou en dat die senior manne van verlede seisoen se afwesigheid die Bulls se kanse gaan knou in vanjaar se toernooi.
Die afgelope Saterdag se vertoning van die Bulls se twee proefspanne teen twee spanne van Tuks het egter ’n vlam van hoop aan die brand gesteek. Die manne het baljaar en hul teenstanders van Tuks onderskeidelik met 40-0 en 95-5 afgeransel.
Hoewel Tuks ook baie staatmakers verloor het en waarskynlik gaan sukkel om vanjaar hul puik vertoning van die 2019 seisoen in die Varsitybeker toernooi te herhaal, was daar tog ’n paar manne in die Bulls se proefspanne wat gewys het dat hulle reg is om leemtes in Pote Human se span te vul.
Die ringkoppe by die Bulls het eerstens waarskynlik ’n meesterskuif gemaak toe hulle die vergete Springbok slot, Jeandré Kruger, teruggelok het na Pretoria. Hy het weens ’n ligte besering nou wel nie Saterdag teen Tuks gespeel nie, maar Kruger kan vanjaar ’n reuse rol speel om die Bulls se jong manne by te staan. Behalwe dat hy ’n baie onderstatte speler is, wat ongelukkig in sy vorige tydperk by die Bulls grootliks agter manne soos Victor Matfield, Bakkies Botha, Flip van der Merwe en Danie Rossouw in die tou moes staan, is hy ook ’n baie sterk leier.
Moenie verbaas wees as Kruger deur die loop van die seisoen ’n belangrike leiersrol in die nuwe span van die Bulls gaan speel nie. Hy is ook ’n baie slim speler en ’n man wat op die veld leiding kan neem, omdat hy die spel verstaan.
Saam met ’n werkesel soos die gewese Lions ster, Andries Ferreira, kan Kruger ’n leemte in die Bulls se enjinkamer vul, terwyl jong opkomende sterre soos Ruan Nortjé, Marius Verwey, Jean Droste en Ryno Pieterse baie by dié twee ervare manne kan leer.
’n Sterk groep leiers is baie belangrik om suksesvol te wees in die SuperRugby reeks en daarom is dit verblywend om aanwinste soos Joss Strauss (wat toetsrugby vir Skotland gespeel het) en die belowende en onderskatte, Jeandré Rudolph in die groep te hê. Dan is daar nog jong leiers van die toekoms en opkomende sterre soos die haker Johan Grobbelaar en die briljante jong agtsteman, Muller Uys.
Voorlangs het die Bulls genoeg talentvolle voorrymanne wat nou reeds ín hul tweede seisoen onder die meester, Daan Human, se leiding gebrei word.
Voeg hierby nog losvoorspeler-sterre soos Marco van Staden, Stoney Steenkamp, Uys, Strauss en Rudolph en daar is geen rede waarom die Bulls nie weer voorlangs hul man sal kan staan in vanjaar se SuperRugby toernooi nie.
Agterlangs spog die Bulls met twee Springbok skrumskakels (Ivan van Zyl en Embrose Papier) wat albei honger is om te bewys dat hulle verlede jaar by die Wêreldbeker toernooi moes gewees het. Dié twee manne sal beslis ook op hul tone gehou word deur die voormalige Junior Bokkie, Marco Jansen van Vuren, wat weer reg is vir aksie na sy besering verlede seisoen.
Die verlies van Pollard is groot, maar die Bulls het baie jong talent soos Manie Libbok en Chris Smith om dié gaping te vul, terwyl die terugkeer van die 35-jarige Morné Steyn ook ’n heilsame uitwerking op die jonges se ontwikkeling kan hê.
Op buitesenter as Burger Odendaal se sentermaat sal Kriel se aangewese plaasvervanger, Johnny Kotze, onder druk geplaas word deur die opkomende jong ster, Marnus Potgieter en die onderskatte Franco Naudé, van wie Loftus nog nie naastenby sy beste rugby as senior speler gesien het nie.
Op die agterste driehoek sal die twee Springbokke Warrick Gelant en Cornal Hendricks terug wees op hul pos, met die Blitzbok Rosco Specman as vennoot. ’n Horde jong opkomende sterre soos die spoedvraat Jade Stighling, Divan Rossouw, Richard Kriel en Diego Appolis sal dié drie manne eerlik hou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.








