Jong krieketster ryg die lopies in
’n Jong krieketster van Pretoria het homself deeglik op die verteenwoordigende krieketverhoog aangekondig toe hy ’n nuwe kolfrekord opgestel het by verlede week se nasionale Cubs-toernooi in Stellenbosch.
Onthou gerus die naam Jordan Hermann, want dié jong krieketster, wat verlede jaar nog aan die Hoërskool Waterkloof verbonde was, het krieketkenners aan die gons.
Diegene wat hom in aksie gesien het by die pas afgelope nasionale Cubs-toernooi in Stellenbosch, het geen twyfel dat dié jong kolwer ’n superster in wording is nie.
Verlede jaar was reeds ’n puik jaar op die krieketveld vir dié bedrewe kolwer. Hy was onder andere die kaptein van Hoërskool Waterkloof se span wat die eindrondte van die Coca Cola Skole T20 Uitdaagtoernooi gehaal het, nadat hulle as die Titans kampioen in hierdie reeks gekroon is.
Hermann was daarna aan die einde van verlede jaar ook een van die Noordelikes skolespan se sterre by die jaarlikse Khaya Majola Week, wat by die Michaelhouse skool in Kwazulu-Natal aangebied is.
Na afloop van hierdie week is die SA Skole- en die SA Colts spanne aangewys. Hoewel geen speler van Noordelikes die SA Skolespan kon haal nie, was Hermann een van die twee plaaslike sterre wat in die Colts span (Suid-Afrika se tweedebeste skolespan) opgeneem is. Die ander plaaslike speler in dié span is Zeeshan Ismail van Pretoria Boys High.
Hermann is intussen ook gekies om die jong Titans te verteenwoordig by Cricket SA se Cubs-week, wat verlede week in Stellenbosch aangebied is. Tydens hierdie toernooi het hy kenners se oë laat rek met sy kolfvertonings en in die proses tong uitgesteek vir die nasionale skolekeurders, wat hom ’n paar weke gelede nie as goed genoeg geag het om die SA Skolespan te haal nie.
Die feit dat die jong Titans nie die eindstryd van hierdie toernooi kon haal nie, was beslis nie Hermann se skuld nie. Hy het sy kant deeglik gebring tydens die toernooi en ’n asemrowende 402 lopies in slegs vyf wedstryde aangeteken. Sy kolfgemiddeld tydens die toernooi wat ’n ongelooflike 100.5.
Hermann se hoogste telling tydens die toernooi was die 168* wat hy op die derde dag teen Nigerië aangeteken het. Intussen het hy tydens dié skouspel gewys dat hy ’n veelsydige speler is en sy beste boulontleding was ook teen Nigerië, toe hy met die indrukwekkende boulsyfer van 2/5 gespog het.
Met hierdie kolfvertoning het Hermann die toernooi-rekord vir die meeste lopies aan flarde gekolf, terwyl sy gemiddeld ook die hoogste ooit was.
Moet dus nie verbaas wees as ons dié talentvolle jongman binnekort saam met die land se senior sterre in aksie sien nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
