Harde werk wag, maar Bulls wys baie belofte
Die Bulls se vertonings die afgelope naweek teen twee spanne van die Lions het gewys dat daar genoeg talent en diepte in Pretoria is om ten minste vanjaar weer die uitspeelfase van die SuperRugby reeks te haal.
Daar sal nog heelwat skaafwerk gedoen moet voordat die Bulls hul 2020 SuperRugby veldtog oor twee weke teen die Sharks in Durban afskop, maar Pote Human se manne het die afgelope naweek in twee opwarmingswedstryde gewys daar is ook nie rede tot paniek op Loftus Versfeld nie.
Die Pretorianers het albei hul opwarmingswedstryde – Vrydag op Loftus Versfeld en Sondag op die FNB stadion in Johannesburg – teen hul bure van anderkant die Jukskeirivier gewen.
Vrydagmiddag se wedstryd, waarin slegs enkele ernstige kandidate vir die SuperRugby span in aksie was, het dalk die grootste bewys gelewer dat daar nie kommer hoef te wees oor die diepte op Loftus Versfeld nie.
In dié wedstryd was ’n groot groep bloedjong juniors vir die Bulls in aksie, maar baie van hulle het gewys dat hulle beslis druk gaan toepas op die senior manne in die top liga.
Die grootste bron tot kommer op hierdie stadium is die feit dat die Bulls in albei wedstryde – Vrydag én Sondag – nie bevredigend vertoon het in die vaste skrums nie. Dít was verlede seisoen een van die Bulls se sterkpune toe hulle vir die eerste keer in baie jare weer gesag afgedwing het in die skrums. Met die twee Springbok stutte, Trevor Nyakane en Lizo Qqoboka, albei tans uit aksie weens beserings, het dit soms maar broekskeur gegaan in die skrums tydens albei wedstryde. Die twee manne wat in hierdie opsig die meeste indruk gemaak het, is die 22-jarige Gerhard Steenekamp (loskop) en die 21-jarige Morné Smith (vaskop).
Ook by die afbreekpunte het die Lions in albei wedstryde die oorhand gehad. Ruan (Stoney) Steenkamp was Vrydag in aksie en hy bly ’n puik leier en harde werker, maar kort dalk ’n tree of twee aan vaart om op SuperRugby vlak werklik ’n faktor as baljagter te wees.
Sondag is die Bulls behoorlik opgedons by die afbreekpunte deur twee van die land se bestes – Roelof Smit (wat einde verlede jaar die Jukskeirivier oorgesteek het) en nóg ’n oud Pretorianer, die rateltaai Marnus Schoeman.
Wian Vosloo het nie as baljagter oortuig nie en dit lyk of die Bulls waarskynlik vanjaar ’n groot werkslading in hierdie verband op die Springbok, Marco van Staden, gaan plaas. Hy was weens ’n ligte bestering nie die naweek in aksie nie.
Die derde kwaal wat die afgelope naweek kop uitgesteek het, is ’n ou sonde van die Bulls wat hulle verlede seisoen soms duur te staan gekom het. Dít is die feit dat hulle soms konsentrasie verloor op verdediging en dat die kommunikasie in hierdie verband ook nog nie naby die standaard van die top spanne in die toernooi is nie. Dis ’n aspek wat vinnig reggestel sal moet word, veral voordat die Bulls teen spanne uit Nieu-Seeland en Australië te staan gaan kom.
Daar is egter genoeg positiewe aspekte om versigtig optimisties te wees oor die seisoen wat wag. Te oordeel aan die afgelope naweek se vertonings is daar geen rede waarom die Bulls nie vanjaar wéér Suid-Afrika se top span in die toernooi kan wees nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







