Dis weer tyd vir die Wonderpark Akasia padwedloop
Padatlete wat deur die vakansietyd steed fiks gebly het kry aan die einde van Januarie die geleentheid om vir vanjaar se Twee Oseane- en Comrades ultra marathons te kwalifiseer by die jaarlikse Wonderpark Akasia padwedloop.

Die jaarlikse Wonderpark Akasia padwedloop vind weer plaas op Saterdag 25 Januarie.
Hierdie gewilde wedloop word vanjaar vir die elfde keer vanaf Wonderpark Inkopiesentrum aangebied.
Die atlete kan kies tussen ’n 5km pretwedloop, 10km padwedloop, 21.1km halfmarathon en 42.2km marathon. Elke atleet wat die wedloop voltooi sal ‘n medalje ontvang.
Atlete wat deelneem aan die marathon kan daarmee nog kwalifiseer vir vanjaar se Twee Oseane- en Comrades ultra marathons, aangesien die Wonderpark Akasia padwedloop amptelik deel is van Atletiek Gauteng-Noord (AGN) se jaarprogram.
Die marathon word opgedra aan Johann van Eeden wat deel is van die Akasia familie en in 2018 sy 40ste Comrades voltooi het. Al die atlete wat dié wedloop voltooi, ontvang ’n medalje met ’n afbeelding van hom daarop.
Aksie begin en eindig by Wonderpark Inkopiesentrum en daar is voldoende parkering by die winkelsentrum. Die roete van die wedloop is meestal gelykpad met ’n paar matige opdraendes en afdraendes. Atlete hardloop deur die noordelike voorstede van Pretoria Noord. Die 42.2km is ‘n dubbel roete.
Voldoende water en Coke asook versnapperings vir al die langasem atlete sal by die nege waterpunte op die roete wees. By elke waterpunt sal ook ’n toilet geplaas word.
Die marathon en halfmarathon begin reeds om 05:30, terwyl die 10km wedloop om 06:00 wegspring. Die pretwedloop begin om 06:10.
Voorafinskrywings is beskikbaar by www.entryrush.co.za asook by Run a Way Sport, Sweatshop Southdown, The Running Shop in Montana en The Cross Trainer in Wonderpark Inkopiesentrum, terwyl atlete ook op die dag van die wedloop vanaf 03:30 sal kan inskryf.
Vir enige navrae, kontak Altje Conradie by 082-372-7093 of per epos by altje.conradie@absamail.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
