Pretoria Rugbyklub wil bou op sukses van 2019
Pretoria Rugbyklub streef daarna om hul herlewing van die afgelope twee seisoene vanjaar na die volgende vlak van sukses te neem.
Na verskeie moeilike jare het Pretoria Rugbyklub sedert 2018 ’n merkwaardige herlewing beleef onder die leiding van prof. Neels van Heerden as president en Jaco Basson as direkteur van rugby.
Verlede jaar het beide die klub se eerste- en tweedespanne die Blou Bulle se Presidentsliga onoorwonne afgesluit.
Verder het al drie Pretoria se senior spanne die uitspeelwedstryde in die Volcanobeker reeks gehaal.
Met hierdie prestasie in gedagte pak Pretoria die nuwe 2020 seisoen met groot opgewondenheid aan en beoog om vanjaar met vier senior en twee o.20 spanne aan die verskeie kompetisies deel te neem.
Met die verandering in die struktuur van die nasionale Gouebeker toernooi sal Pretoria Rugbyklub vanjaar ook aan dié gesogte reeks deelneem.
Kompetisie in die Interprovinsiale Super klubreeks (Volcanobeker in 2019) sal baie strawwer wees vir Pretoria, aangesien klubs soos Rustenburg Impala en Springs afgeskuif het en nou ook deel van dié liga gaan wees.
Basson dien steeds in beide poste as voorsitter van die klub en direkteur van rugby, terwyl prof. Van Heerden steeds as president leiding gee.
Die ervare en bekwame Jan Smit sal vanjaar Pretoria rugbyklub se hoofafrigter wees, terwyl Theo Reinecke in beheer sal wees van alle Jeugrugby by die klub.
Saam met Reinecke sal die bekende oud losskakel, Mike Erasmus jr, die afrigters wees van die klub se o.20 spanne, wat in die Blou Bulle se top o.20 liga sal kompeteer. Rhyan Stigling en Aya Mavuso is weer die afrigters van die o.20 akademiespan.
Nuwe afrigters soos Chris Botha en Martinus van Rooyen sal by die klub se ander senior spanne betrokke wees, terwyl die ervare Dave Preston uit Engeland by Pretoria Rugbyklub aangesluit het om as spanbestuurder betrokke te raak.
Die klub spog reeds met ’n groot aantal nuwe speler-aanwinste vir die jaar, terwyl die kern van 2019 se staatmakers behou is sonder enige wesenlike verliese. Volgens Basson vergemaklik dié situasie beslis die klub se groei- en bouproses.
Die klub het reeds verlede week met proefwedstryde begin, maar voornemende spelers wat betrokke wil raak kan eerskomende Vrydag (31 Januarie) steeds aanmeld vir die finale proewe.
Daarna sal die klub enkele vriendskaplike wedstryde speel ter voorbereiding vir die
Naas Botha Derby, wat op 29 Februarie teen hul aartsvyand QBR (van oorkant Totiusstraat) gespeel sal word. Daar word beplan om met ses spanne teen QBR op te ruk in dié gewilde derby.
Basson nooi enige belangstellende spelers om by die klub aan te meld. Daar is ook nog twee poste vir spanbestuurders beskikbaar en die klub is op soek na ’n biokinetikus of fisioterapeut wat vir die 2020 seisoen by hulle wil aansluit.
Enige navrae kan gedoen word by Jaco Basson by 084-605-3731.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
