Bulls verloor eerste tuiswedstryd in vervelige affêre teen Blues
Na die Bulls se nederlaag op Loftus Versfeld teen die Blues moet dit maar amptelik gesê word – Pote Human se span is in die moeilikheid en die 2020 SuperRugby toernooi gaan vir hulle rampspoedig eindig as hulle nie drasties in verskeie aspekte verbeter nie.
In ’n bisarre en saai SuperRugby wedstryd, wat meer wil die patetiese (en soms skokkende) vertoning van skeidsregter Marius van der Westhuizen en sy assistente onthou sal word as vir die rugby-askie, het die Blues van Auckland in Nieu-Seeland die Bulls Saterdagmiddag op Loftus Versfeld met 21-23 geklop.
Kort voor die afskop van hierdie wedstryd het die hemele geopen en reën het oor Loftus Versfeld begin uitsak.
Dié reën is egter vroeër die week reeds voorspel en albei spanne het waarskynlik voorberei vir die toestande.
Ten spyte van die nat veld en nat bal het albei spanne tog regdeur die wedstryd die bal genoeg lug gegee. Die eerste punte aan albei kante is egter deur middel van stradoele aangeteken.
Ongelukkig is ’n groot deel van (veral) die eerste helfte ontsier deur omstrede beslissings van al vier die beamptes in beheer – Marius van der Westhuizen, sy twee assistente, Cwengile Jadezweni en Divan Uys, asook die TV-skeidsregter, Joey Klaaste-Salmans.
Terwyl die Bulls soms goed geskrum het, was hul onvermoë om geleenthede te gebruik en momentum te bou die grootste rede vir hul ondergang. Verskeie keer wanneer hulle in die gevaargebied gekom het en punte as beloning moes kry, het hulle besit verloor of foute gemaak, wat hulle moes laat omdraai.
Daar kan verder werklik bittermin uit ’n positiewe oogpunt oor hierdie wedstryd gesê word. Dit was vervelig, sonder enige momentum en ’n geploeter deur twee spanne wat – as hulle op hierdie trant aanhou – saam met ’n paar deelnemers uit Australië die onderste deel van die punteleer sal uitmaak hier teen Juniemaand.
Die Bulls het steeds bittermin kreatiwiteit agterlangs en voorlangs makeer hulle steeds ’n top-klas baljagter.
Wat die manne uit Auckland betref, hulle sal sukkel om die top spanne in die toernooi in toom te hou.
Wat die beamptes van hierdie wedstryd betref – hierdie spel is professioneel en terwyl spelers en afrigters verplig word om hul saak weekliks voor die media (en dus indirek vir die ondersteuners, waarsonder daar nie ’n toernooi sou kon wees nie) te stel, is dit hoogtyd dat die beamptes aan dieselfde vereistes onderwerp word.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 21 Drieë: Morné Steyn, Jeandré Rudolph Doelskoppe: Manie Libbok (1). Strafdoele: Morné Steyn (3)
AUCLAND BLUES: 23 Drieë: Mark Telea, Tom Robinson, Stephen Perofeta. Doelskoppe: Otere Black (1) Strafdoele: Otere Black (2)
Skeidsregter: Marius van der Westhuizen
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




