Local sportSport

Menlopark kraai weer koning by Pretoria A-bond atletiek

Die prestasies van atlete by verlede week se Pretoria A-bond atletiekbyeenkoms het bewys dat dié stad oor wêreldklas junior atlete beskik en waarskynlik ook die land se beste atletiekskole huisves.

Die Hoërskool Menlopark is steeds Pretoria se kampioen atletiekskool, nadat hulle verlede Vrydag in Roodepoort die Pretoria A-bond atletiekbyeenkoms redelik maklik gewen het.

Met hierdie prestasie het Menlopark nie net hul 19de agtereenvolgende oorwinning by dié byeenkoms behaal nie, maar hul oorheersing op die atletiekbaan bevestig, nadat hulle enkele weke gelede ook Atletiek SA en Twizza se Superskole atletiekreeks gewen het.

Menlopark (2632 punte) het hul naaste teenstanders, Hoërskool Waterkloof (2136 punte) maklik geklop. Die Klofies het verlede jaar ook tweede geëindig. In die derde plek was Prestige College van Hammanskraal (2063 punte), gevolg deur Hoërskool Zwartkop (2010 punte), Hoërskool Garsfontein (1890 punte), Hoërskool Montana (1804 punte) en Midstraem College (1613 punte).

Hierdie uitslag beteken dat Midstream College na net een probeerslag tussen die stad se top atletiekskole volgende jaar weer sal afskuif na die B-bond.

Menlopark se triomf was vanjaar selfs groter as in die verlede, weens die feit dat hul meisies (1423 punte) vir die eerste keer ooit daarin kon slaag om in die meisies-afdeling af te reken met die span van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) wat met 1364 punte in die tweede plek geëindig het.

Afrikaans Hoër Seunskool (Affies, 1328 punte) het egter hul titel as kampioen onder die seunspanne bevestig, met Menlopark (1209 punte) in die tweede plek. Daarmee het Affies verbeter op verlede jaar se poging, toe hulle slegs 17 punte voor Menlo se seuns geëindig het.

Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria het die byeenkoms gesamentlik aangebied. Die byeenkoms het vanjaar weens logistieke redes op die Ruimsig baan in Roodepoort plaasgevind, aangesien die Pilditch baan in Pretoria-Wes tans opgeknap word en die Tuks Atletiekstadion nie voldoende sou wees nie weens gebrekkige toeskouer-sitplek vir hierdie byeenkoms, wat jaarliks sowat 10000 toeskouers lok.

Dié twee skole se aanbieding van die byeenkoms was eersteklas. Nie net moes hulle besondere uitdagings te bowe kom ten opsigte van die logistieke reëlings nie, maar dreigende reën en swaar weer moes ook getrotseer word, wat op ’n baie professionele wyse hanteer is.

Op die baan was die aksie oudergewoonte skitterend. Verskeie byeenkomsrekords het in die slag gebly, terwyl daar ook enkele Suid-Afrikaanse skole rekords gespat het.

’n Kenmerk van die byeenkoms was die puik prestasies van veral die verskillende skole se junior atlete (o.14 en o.15) in byna al die items. Dit voorspel natuurlik groot opwinding en selfs nog beter prestasies vir die volgende paar jaar by hierdie byeenkoms.

Verskeie atlete het prestasies van meer s 1100 punte op die ABSA tabel behaal, terwyl daar selfs ’n paar voltalle (1200 punte) op dié tabel was.

Savannah Visser, ’n o.14 atleet van Menlopark het die besondere prestasie behaal dat sy drie keer op die byeenkoms meer as 1000 punte op die ABSA tabel in drie verskillende items kon behaal. Sy het die spiesgooi en gewigstoot met afstande van onderskeidelik van 39,48m (1197 punte) en 14,19m (rekord – 1098 punte) gewen, terwyl sy tweede was in die diskus met ’n afstand van 36,58 (1142 punte).

Visser se spanmaat van Menlo, Cellonika van den Berg, wat as beste junior meisie veldatleet aangewys is, het die diskus gewen met ’n rekordpoging van 39,26m, wat ’n voltal van 1200 ABSA punte werd was. Sy het in die gewigstoot en spiesgooi items die silwer medaljes ingepalm.

Nog ’n meisie wat haar staal in ’n veld-item gewys het is Mckyla van der Westhuizen van Zwartkop. Sy het die spiesgooi vir meisies o.16 met ’n nuwe rekord afstand van 52,26m gewen en daarmee 1200 ABSA punte verdien.

Hencu Lamberts, ’n o.14 seun van Affies, het ook ’n voltal (1200 punte) op die ABSA tabel behaal met sy 51,51m in die diskus item.

Aiden Smith (o.16) van Menlopark is die ander atleet wat ’n voltal op die ABSA tabel kon behaal. Hy het die gewigstoot item met ’n rekord afstand van 18.94m gewen.

Atlete wat op die baan uitgestaan het is, onder andere, Evens Dhlamini van Prestige College met sy 13,77s (1162 punte) in die 110m hekiies vir seuns o.16 en Precious Molepe van Prestige College se blitsige 55,15s (1123 punte) in die 400m vir mesies o.15, waarmee sy die bekende ster-atleet Zeney van der Walt se rekord met meer as twee sekondes verbeter het.

Twee langasem meisies van Montana, Izandri Jacobs (o.14) en Carmie Prinsloo (o.19) het hul baanitems oorheers met puik prestasies.

Jacobs het die rekord in die 800m vir meisies o.14 met ’n breukdeel van ’n sekonde misgeloop met haar tyd van 2:16,90 (1100 punte). In die 1500m het sy 1053 punte verdien vir haar tyd van 4:44,84.

Prinsloo spog met drie goue medaljes en drie nuwe rekords. Sy het die 800m gewen in ’n rekord tyd van 2:08,57 (1038 punte), terwyl sy die vorige rekord in die 1500m met meer as 12 sekondes verpletter het. Haar wentyd was 4:23,24 (1026 punte). Sy het ook die 3000m rekord met meer as 15s verbeter met haar wentyd van 09:52,66 (913 punte).

Die dag is op ’n absolute hoogtepunt afgesluit toe beide die senior 4x100m aflos wedlope (seuns en meisies o.19) met nuwe rekordtye gewen is.

Die meisies wedloop is deur die span van Menlopark gewen in ’n tyd van 48,33s, terwyl die seuns van Affies die oë laat rek het met hul wêreldklas tyd van 40.51s, waarmee hulle die byeenkomsrekord, asook die SA-skole rekord aan flarde genael het.

https://www.facebook.com/219963228155963/videos/213121076503054/

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button