Klubrugby brei steeds uit met nog nuwe inisiatiewe
’n Nuwe Super klubrugby liga, asook ander nuwe inisiatiewe vir die 2020 seisoen is verlede week by Loftus Versfeld bekendgestel.
Terwyl die Bulls se top professionele span tans sukkel om die mas op te kom in die SuperRugby toernooi, gaan dit gelukkig baie beter met rugby op klubvlak onder die jurisdiksie van die Blou Blou Bulle Rugby-unie.
Na die sukses van verlede jaar se interprovinsiale Volcanobeker klubtoernooi, is daar verlede week aangekondig dat dié toernooi vanjaar met die hulp van ’n nuwe borg verder uitgebrei gaan word.
Met TW Profile Services as nuwe borg, sal die interprovinsiale Super Klubliga vanjaar aangebied word met Centurion, ABE Midas Naka Bulle, Quins-Bobbies en Tukkies as deelnemers uit Pretoria, terwyl die Limpopo Blou Bulle se top klub, die Northam Rhinos, asook Brakpan en East Rand United uit die geledere van die Valke Rugby-unie die res van die deelnemers sal wees.
Hierdie liga sal op 14 Maart afskop en die eindstryd sal plaasvind op 20 Junie.
In die tweede afdeling van hierdie toernooi, wat op 21 Maart begin, sal twaalf klubs uit drie verskillende unies deelneem. Bloubul klubs soos die Dragons, Korrektiewe Dienste, Pretoria Rugbyklub en die Grizzlies van Tuine sal kompeteer teen Impala (Luiperds), Klerksdorp (Luiperds) en vyf klubs van die Valke, naamlik Benoni, Boksburg, NWU Vaal, Springs en Vereeniging.
Sestien klubs uit al die streke sal ook vanjaar deelneem aan ’n uitgebreide o.20 liga. Dié liga was verlede jaar besonder sterk en het aan ’n groot groep junior spelers later in die seisoen die geleentheid gebied om by verskeie provinsiale unies in die provinsiale o.19 kampioenskap, asook by o.20 provinsiale spanne betokke te raak.
Daarbenewens het die preident van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), Willem Strauss, ook aangekondig dat die klubseisoen vanjaar sal afskop met ’n nuwe inisiatief, wat as die President Klub-uitdaagtoernooi bekend sal staan. In hierdie toernooi sal die vier top “oopklubs” (uitgesluit klubs verbonde aan tersiêre instellings) betrokke wees by ’n klubrugby fees op 21 Maart, waartydens hulle teen die vier top klubs van die Leeus Rugby-unie op Loftus Versfeld sal speel.
Verdere goeie nuus vir klubrugby liefhebbers in Pretroia is dat, anders as verlede seisoen, die beroemde Carltonbeker toernooi vanjaar weer behoorlik gestruktueer sal word met ’n amptelike eindstryd tussen die twee top spanne op die punteleer. Dié trotse en tradisieryke toernooi sal ook vanjaar uitgebrei word met die deelname van die Northam Rhinos, wat as top klub in die Limpopo Blou Bulle streek teen die vier deelnemers uit Pretoria, naamlik Centurion, ABE Midas Naka Bulle, Quins-Bobbies en die verdedigende kapioen, Tukkies, sal deelneem.
Al hierdie nuus volg verder op SA Rugby se bekendmaking dat die nasionale Gouebeker klubkompeisie van 16 na 80 klubs uitgebrei gaan word en dat dit op die model van die bekende FA Cup sokkertoernooi geskoei sal wees. Dit sal beteken dat meer plaaslike klubs aan die Gouebeker toernooi sal deelneem.
Strauss het by die bekendstelling van die nuwe klubtoernooie weer beklemtoon dat die rugby landskap van Suid-Afrika dramaties verander het en dat klubrugby nou weer besig is om die relevante rol in te neem soos wat die geval was voor die dae van professionele rugby. Hy het daarop gewys dat verskeie spelers oor die afgelope paar seisoene geleenthede gekry het om via klubrugby die professionele arena te betree en hy glo dat hierdie scenario sal uitbrei.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
