Local sportSport

“Nuwe” Bulls span behaal bonuspunt oorwinning teen Highlanders

Bulls ondersteuners het weer hoop vir die res van die SuperRugby seisoen, nadat Pote Human se manne Saterdagmiddag ses drieë gaan druk het om die Highlanders van Nieu-Seeland oortuigend en met ‘n bonuspunt te klop.

Die lug sal Sondagoggend in Pretoria ’n bietjie meer blou wees as gewoonlik, want na vier droewige weke vir Bulls ondersteuners het Trevor Nyakane en sy manne Saterdagaand nie net hul eerste SuperRugby oorwinning van die seisoen behaal nie, maar bonop ses drieë op Loftus Versveld gedruk om die Highlanders met 38-13 kaf te draf.

Dit was ’n wedstryd van twee helftes. Hoewel elke span in die eerste skof een keer gaan druk het, was die aksie teleurstellend deurspek met onnodige foute aan elke kant. Tog was daar tekens dat die Bulls se pak voorspelers, wat ’n paar nuwe jong gesigte bevat het, besig was om beheer van sake te verkry.

Teen rustyd het die 8163 bittereinder ondersteuners op Loftus Versfeld nog nie veel gehad om oor opgewonde te raak nie. Die eerste helfte was immers ‘n spreekwoordelike getjommel, soos verwag kon word van twee spanne wat vroeg in die seisoen albei reeds lyk na kandidate om die houtlepel in die kompetisie te ontvang.

Dit was egter ’n ander Bulls span wat na rustyd met nuwe (wit) truie opgedraf het, nadat die besoekers se truie só naby in kleur aan die tuisspan se kleure was, dat verwarring kon plaasvind.

Skielik het die Bulls hulle oorheersing voorlangs beter benut en die bal begin rondgooi. Na ’n paar blapse in die eerste helfte, het die Springbok heelagter, Warrick Gelant, ’n briljante tweede helfte beleef. Elke keer as hy by die agterlyn aangesluit het, was daar moeilikheid vir die Nieu-Seelanders.

Nadat Gelant eers self gaan druk het, het hy ’n reuse aandeel in ten minste twee van Rosco Specman se drie drieë daarna gehad. Behalwe vir een lelike aanslaan het Specman self ’n puik middag beleef. Hy het drie skitter drieë gedruk en sy dekverdediging was goud werd vir die Bulls.

Voorlangs het die nuwelinge almal baie goed vertoon, maar dit was die ou kalant, die flank Josh Strauss, wat kop en skouers bo die res uitgestaan het. Strauss was oral teenwoordig en hy het telkens ’n paar verdedigers besig gehou as hy aan die dryf gegaan het.

’n Mens kan seker ook nie té veel lees in die oorwinning nie, aangesien die Highlanders nie op hierdie stadium ’n span is wat die wêreld aan die brand speel nie. Maar dit die manier waarop die Bulls se agterlyn daarin geslaag het om geleenthede te skep én af te rond, wat hul ondersteuners sal laat moed skep.

Pote Human en sy manne sal met ’n positiewe gemoed op die vliegtug kan klim vir hul toer na Australasië. Daar is weer hoop in die Bulls kamp.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 38  Drieë: Jaco Visagie, Warrick Gelant, Rosko Specman (3), Cornal Hendricks. Doelskoppe: Manie Libbok (3), Morné Steyn (1).

HIGHLANDERS: 13 Drieë: Josh Loane  Doelskoppe: Josh Loane (1) Strafdoele:  Josh Loane (2)

Skeidsregter: AJ Jacobs

 

https://web.facebook.com/BullsOfficial/videos/271431223841264/

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button