Jong losskakel veg sy pad oop van klubrugby tot op internasionale verhoog
’n Jong losskakel van Pretoria het die nuutste voorbeeld geword dat die rugby-omgewing in Suid-Afrika besig is om te verander en dat klubrugby deesdae deure kan oopmaak vir hardwerkende spelers wat droom van groter hoogtes.

Dis nie meer ’n geheim dat die hele rugby-opset in Suid-Afrika besig is om te verander nie.
Tot ’n paar jaar gelede is baie jong spelers se drome van groot rugby sommer vroeg reeds verydel as hulle nie op skool reeds ’n professionele kontrak gekry het nie. Die afgelope paar seisoene het hierdie tendens stadig maar seker begin verander en al hoe meer spelers maak hul deurbraak na die professionele geledere via klubrugby.
In 2018 was Ethan Wentzel as 18-jarige martikulant ’n uitblinker in Hoërskool Centurion se eerstespan, maar toe hy nie die Blou Bulle se Cravenweek haal nie het baie ander gedink dis die einde van sy rugbydrome.
Wentzel self het egter ander planne gehad. Hy het wel daarin geslaag om die Bulle se Akademieweek-span te haal, waar hy een van die uitblinkers was.
Ten spyte van goeie vertonings by dié toernooi was daar egter geen aanbiedinge van professionele unies nie. Wentzel het besluit om by die Centurion Rubyklub aan te sluit en sy rugbyloopbaan daar voort te sit, nadat hy deur dié klub se hoofafrigter – wat ook by die skool betrokke is – genader is.
Riaan Brand het geweet dat Wentzel die talent het om suksesvol te wees, nadat hy hom op skool reeds onder hande geneem het. Só groot was sy vertroue in dié jong losskakel se vermoëns dat hy hom as 19-jarige direk by die klub se eerstespan betrek het.
Sommer gou het Wentzel die tonge in klubgeledere los gehad en kenners het dadelik besef dié jongman is spesiaal. Ná ’n skitter vertoning vir Centurion teen Tuks in die Carltonbeker liga het hy skielik oproepe van rugby-agente gekry wat wou gesels. Toé het dié lenige losskakel geweet hy moet sy kans gebruik en hy het weekliks harder gewerk.
Intussen is hy ook raakgesien deur keurders van die Valke rugby-unie se o.19 span wat aan verlede jaar se nasionale o.19 toernooi sou deelneem. Toe die Blou Bulle nie in sy dienste belangstel nie, het die Valke hom opgeraap en dít was vir Wentzel die groot kans om sy rugbyloopbaan na die volgende vlak te neem.
Na uitstaande vertonings vir die Valke se o.19’s by dié nasionale toernooi is hy gekontak deur Suid-Afrika se o.20 afrigter, Chean Roux, wat besig was om ’n o.19 span saam te stel vir ’n toer na Georgië ter voorbereiding vir vanjaar se SA o.20 wêreldkampioenskap.
Wentzel is vir dié toergroep na Georgië gekies en Roux was so tevrede met sy vertonings dat hy vroeër vanjaar weer na die SA o.20 span se oefenkampe genooi is.
Tans lyk sy kans uitstekend om in Junie en Julie vanjaar deel te wees van die Junior Bokkies se veldtog by die o.20 wêreldkampioenskap in Italië.
Intussen het Wentzel by Tuks aangesluit, maar weens ’n logistieke oorsig kon hy nie betyds as student registreer om vanjaar reeds Varsitybeker rugby te kan speel nie. Hy sien egter daarna uit om vir Tuks in die Super Klubreeks en die Carltonbeker toernooi te speel, totdat hy weer vir nasionale diens by die Junior Bokkies opgeroep word.
Moet dus nie verbaas wees as ons in die toekoms nog baie van Ethan Wentzel gaan hoor nie. Dié jongman borrel van sporttalent. Hy was op skool ’n puik spiesgooier en interhoër kampioen, terwyl hy ook as skoolseun vir Noordelikes in die Coke-week kriektet gespeel het. As 17-jarige skoolseun was hy boonop ’n uitblinker vir die nasionale span by die binnenshuise wêreldbeker kriekettoernooi in Dubai.
Dis egter op die rugbyveld, met die nommer-10 op sy rug, waar Wentzel die vermoë het om die heel hoogste trappie van die leer te bereik.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

