Local sportSport

Centurion klop QBR, Northam wys hul krag in Super Klubliga

Terwyl Centurion en QBR in ‘n titaniese stryd betrokke was in die eerste rondte van die nuwe Super Klubliga en die Carltonbeker toernooi, het die Northam Rhinos op hul tuisveld in Limpopo met hul oorwinning oor Tuks gewys dat hulle ernstige kompeteerders in hierdie klubrugby toernooie gaan wees.

Die nuwe TW Profile Super Klubliga en die Carltonbeker toernooi het die afgelope naweek gesamentlik afgeskop en sommer in die eerste rondte was dit reeds duidelik dat dié twee kompetisies vanjaar vir kookwater klubrugby gaan sorg.

Terwyl Centurion en Quins-Bobbies Rugbyklub (QBR) in ’n klipharde en spannende stryd betrokke was, het die Northam Rhinos sommer vroeg in die seisoen gewys dat hulle nie maklik op hul tuisveld in Limpopo geklop gaan word nie.

– In Centurion moes Riaan Brand se manne baie hard veg om hul besoekers uit Groenkloof in die heel laaste sekondes van hul tweestryd te troef.

Die twee spanne het gewemel van top klubspelers, onder wie verskeie manne goed genoeg is om provinsiale rugby te kan speel.

Hoewel nie ’n enkele drie in die eerste helfte gedruk is nie, was daar geen gebrek aan aksie nie. Beide spanne se verdediging was egter solied en teen rustyd was dit slegs die twee losskakels se skopvoete wat die telbord aan die gang kon hou. Dié stryd is tydelik deur Jason Bayford van QBR gewen, toe hy in die eerste helfte drie stafdoele kon behaal teen Morné Hugo van Centurion se een, wat die rustydtelling op 9-3 in die besoekers se guns te staan gebring het.

Hierdie telling was waarskynlik ’n redelike weergawe van die spel in die eerste helfte, aangesien QBR beslis gebiedsvoordeel oorheers het in dié skof.

Centurion rugbyklub se puntemakers Saterdag op hul tuisveld teen QBR. Van links is losskakel, Morné Hugo, plaasvervanger Trevor Smith, linkervleuel Curtley Brinkhuis en buitesenter Kevin Osborne.
Foto: Johanna de Vos

Na rustyd het die frustrasie van sommige spelers in dié titaniese stryd soms die oorhand begin kry en gevolglik het die dissipline ook begin lol.

Cassie Bezuidenhout, vaskopstut van Centurion, was die eerste man wat in ’n geelkaart van die skeidsregter vasgekyk het ná ’n tegniese oortreding.

Daarna was dit egter die besoekers wat genadeloos gestraf is deur skeidsregter Ansius Vermeulen. Eers was dit QBR se slot en kaptein, Pieter Griesel, wat die veld permanent moes verlaat toe hy ’n rooikaart gekry het ná ’n kopstamp-voorval.

Nadat Griesel die veld verlaat het, het die skaal stadig maar seker in Centurion se guns begin swaai. Hulle kon egter eers na 30 minute se spel in dié helfte daarin slaag om die doellyn te haal, toe die groot senter, Kevin Osborne, met brute krag oor die doellyn is en die tuisspan vir die eerste keer in die wedstryd die voortou (10-9) kon neem.

Toe linkervleuel Curtley Brinkhuis kort daarna ná puik spel van die tuisspan in die hoek oorduik, wou dit lyk of die stryd gewen is met die telling op 15-9. Dié persepsie is versterk deur twee geelkaarte wat Vermeulen aan nog twee QBR-spelers uitgedeel het, sodat hulle op ’n stadium met 12 manne moes klaarkom.

’n Onderskepdrie deur linkervleuel, Jasper Genis, waarvoor hy byna 70 meter ver moes nael, het die wedstryd weer geswaai met QBR wat toe 16-15 voorgeloop het. Nog drie punte via ’n reuse strafdoel van die plaasvervanger losskakel, Hendrik Muller, het QBR se voorsprong na 19-15 gerek en die tuisskare se moed het in hul skoene gesak.

Centurion se manne het egter baie karakter gewys om in die laaste minuut van die wedstryd terug te veg. Die plaasvervanger voorspeler, Trevor Smith, was die man wat met krag en determinasie oorgebeur het vir die wendrie, nadat die tuisspan die bal deur verskeie fases behou het.

– In Northam het die tuisspan drie keer gaan druk teen Tuks se twee drieë om hul seisoen met ’n oorwinning van 28-12 teen die studente af te skop.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button