Stoeivereniging brei memorabilia versameling uit danksy oud-Springbok
Die oudste oorlewende Springbok stoeier van Noord-Gauteng Stoei het dié organisasie onlangs besoek om sy handtekening op ’n historiese dokument in die vereniging se museum te verewig.
Een van Noord-Gauteng Stoei (NG Stoei) se grootste legendes het onlangs ’n baie waardevolle besoek gebring aan dié organisasie se hoofkantoor in Menlopark.
Sover bekend is die 80-jarige Jannie Eloff die oudste oorlewende stoeier van Noord-Gauteng wat amptelik Springbok kleure ontvang het in die vorige bedeling.
Jannie se kleindogter, Saskia Nortjé, het onlangs die kantoor van NG Stoei besoek en heel toevallig afgekom op ’n baie waardevolle dokument wat deel is van dié vereniging se memorabilia versameling.
Op dié dokument verskyn die name van al NG Stoei se grootste legendes en Springbokke vanaf die begin van die vereniging se bestaan. Die meeste van hierdie legendes wat reeds oorlede is, het dié dokument onderteken. Nortjé het egter opgelet dat haar oupa se handtekening ontbreek en besluit om dadelik werk te maak van die situasie.
Met die hulp van die NG Stoei kantoorpersoneel is ’n klein funksie gereël op ’n dag wat Eloff en sy vrou, Panna, dié kantoor kon besoek. ’n Paar familielede is ook na die funkie uitgenooi, terwyl een van NG Stoei se ere-presidente, Christo Reitz, dié vereniging amptelik verteenwoordig het.
Eloff was gou om te getuig dat Reitz se oorlede vader, Kosie, ’n baie groot invloed op sy stoeiloopbaan gehad het en dat hy hom steeds beskou as die beste afrigter wat hy ooit gehad het.
Dié gewese amptenaar van die voormalige Suid-Afrikaanse Spoorweë (SAS) is, ten spyte van sy ouderdom, nog baie gesond en aktief, terwyl hy detail oor mense en gebeure van sy jong dae as stoeier besonder goed kan onthou.
Eloff het in die Moot van Pretoria grootgeword, waar hy as leerling van Laerskool Villieria en Hoërskool Michael Brink (later Hoërskool HF Verwoerd) veral as amateur bokser en rugbyspeler uitgeblink het.
Op 14-jarige ouderdom het hy begin stoei en hy was lid van die destydse Capital Park Stoeiklub, wat later die Reitz Stoeiklub geword het. Hy was tussen 1955 en 1962 sewe keer die Suid-Afrikaanse kampioen in sy gewigsklas, terwyl hy in daardie tyd ook jaarliks die provinsiale kampioenskap gewen het.
In 1958 verloor Eloff met een punt in die Springbok proewe teen die bekende Ian Epton, wat beteken dat hy die Statebond Spele in Cardiff, Wallis, misloop. ’n Jaar later klop Eloff egter vir Epton en in 1960 wen hy die Springbok proewe vir die Springbokspan wat die Olimpiese Spele sou bywoon. Ongelukkig word die Springbok stoeispan as gevolg van ’n gebrek aan fondse nie in 1960 na die spele in Rome gestuur nie.
Eloff verwerf egter sy Springbokkleure in 1962 teen ’n wêreldspan wat in Suid-Afrika toer, terwyl hy in 1963 weer Springbok word om saam met die span na Duitsland te toer.
Ná sy dae as stoeier het hy by die sport betrokke gebly en as afrigter by die destdyse Yskor klub en Tuine Stoeiklub uitgehelp.
Hy is ook tydens sy stoeiloopbaan genader deur die manne in beheer van professionele stoei. Terwyl die media reeds oor sy betrokkeheid by dié destydse skouspel bespiegel het en sy eerste geveg in die Skilpadsaal op die Pretoria Skougronde reeds geadverteer is, het Eloff weens persoonlike redes en komplikasies met sy verhouding ten opsigte van sy werkgewer besluit om nie die professionele kode se aanbod te aanvaar nie.
Nadat hy as assistent-superintendent (passasiersdienste) by die Suid-Afrikaanse Spoorweë afgetree het, kon Eloff nie gaan stilsit en niksdoen nie. Hy het as plaasbestuurder vir ’n beesboer in die Standerton omgewing begin werk, waar hy steeds in diens is en ten spyte van sy ouderdom daagliks by die boerdery betrokke is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




