Local sportSport

Legendariese en geliefde rugby-afrigter oorlede

’n Legende in die Suid-Arikaanse rugby-afrigtingsgeledere is die afgelope naweek oorlede, nadat hy tydens die grendelstaat-tydperk met kanker gediagnoseer is.

Een van die gewildste, veelsydigste en mees onderskatte rugby-afrigters in Suid-Afrika, Chris Buitendach, is die afgelope naweek oorlede. Buitendach (68) het tydens die grendelstaat tydperk siek geword en hy is kort daarna met kanker in die dunderm en lewer gediagnoseer. Dié gewilde rugbyman is deur vele in rugbykringe beskou as ’n wandelende rugby-ensiklopedie. Hy het sy loopbaan as afrigter begin in die laat 1970’s, toe hy in die Laeveld by Hoërskool Rob Ferreira ’n ondersyser was. Later was hy ook by Hoërskool Nelspruit betrokke, vanwaar hy provinsiale skolespanne begin afrig het. In 1983 het hy ’n gekombineerde SA Skolespan afgerig wat in Wallis getoer het. Tien jaar later, in 1993, het Buitendach op Loftus Versfeld aangemeld toe hy as hulpafrigter van die Blou Bulle aangestel is. In 1998 wen hy die Curriebeker saam met die Blou Bulle as Eugene van Wyk se hulpafrigter. Buitendach was een van die grootste kenners van skrum-afrigting in Suid-Afrika en hy het as skrum-konsultant wêreldwyd naam gemaak. Hy is in die laat 1990’s deur Nick Mallet nadergetrek om die Springbokke as skrum-afrigter by te staan, terwyl hy as konsultant later ook by die nasionale spanne van Rusland, Pole en meer onlangs ook Indië betrokke was. Sy kennis van skrumwerk het hom gehelp om betrokke te raak by ’n projek waartydens hy saam met die ingenieurswese fakulteit van die Universiteit van die Witwatersrand ’n revolusionêre skrummasjien ontwerp het. In die amateur-era het Buitendach verskeie verteenwoordigende spanne onder die vaandel van die Noord-Transvaal Rugby-unie afgerig. Later was hy in die professionele era ook as konsultant by die Mpumalanga Pumas en die Lions in Johannesburg betrokke. Daarby was hy ’n bekende mentor van rugby-afrigters en het selfs baanbrekerswerk gedoen om afrigters in die sewes-kode op te lei.  Hy was betrokke by honderde afrigtingsklinieke op alle vlakke, terwyl hy ook outeur en mede-outeur van verskeie afrigtings-handleidings was. Ook op klubvlak het Buitendach sy merk gemaak, nadat hy sy tande as afrigter van senior spelers reeds in die laat 1980’s by die Nelspruit Rugbyklub geslyp het. Later was hy in meer as een tydperk betrokke by die Tuks Rugbyklub (ook as hoof afrigter so onlangs soos 2016), terwyl hy tussen 2009 en 2013 diep spore getrap het om die Impala Rugbyklub in Rustenburg as een van Suid-Afrika se top klubs te vestig. Buitendach het vroeër vanjaar te midde van groot opgewondenheid by die Pirates Rugbyklub in Johannesburg betrokke geraak, maar die Covid-19 krisis het sy werk daar beperk. Sy kennis van die spel en sy vermoeë om talent te identifiseer het hom ook ’n gesogte keurder op alle vlakke – van skole tot op internasionale vlak – gemaak. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button