Nie Covid-19 òf gure weer kan gestremde heneglaars stuit
Te midde van verskeie uitdagings was die agtste Ramcat Hengelfees vir gestremde hengelaars die afgelope naweek in Centurion weer ’n reuse sukses.
Dreigende reënweer en streng Covid-19 regulasies het uitdagings gebied aan die hengelaars wat ingeskryf het vir vanjaar se Ramcat Hengelfees vir gestremde hengelaars in Centurion, maar dit kon hulle nie keer om die katrolle te laat sing nie.
Nadat dié jaarlikse hengelfees, wat tradisioneel reeds vroeg in September aangebied word, vir ’n maand uitgestel moes word, het ’n groot groep gestremde hengelaars wel die afgelope naweek hul plekke ingeneem langs die dam by die Irene Country Lodge. Dié hengelaars het van oral in Gauteng en selfs van Noordwes opgedaag om deel te neem.
Weens Covid-19 regulasies moes die organiseerders vanjaar die inskywings beperk, maar diegene wat wel deelgeneem het, het die vis geen ruskans gegee nie. Enkele reëndruppels deur die loop van die oggend kon die hengelaars ook nie van die water weghou nie en gelukkig het die harde bui eers later geval, nadat almal reeds die veiligheid van die markiestent opgesoek het waar die funksie en middagete na die dag se aksie aangebied is.
Die eerste lyne was kort na die amptelike opening van die fees, wat om 07:00 plaasgevind het, in die water. Nie lank daarna nie het die manne met die aanloklikste aas die eerste babers laat byt.
Volgens die hengelaars was die karp vanjaar baie skugter en kort voor die fees om 13:00 gesluit verklaar is, het niemand nog ’n karp aan die hoek gehad nie. Die babers was egter besig en teen 12:15 die middag het deelnemers reeds 50 van hulle uitgetrek. Die algehele massa van dié babers was 83kg en op daardie stadium was Kenny Pretorius van Kempton Park se baber van 4,8kg die grootste vangs van die dag.
Die Pretorianer Douglas Borman, wat deur sy vriend Cobus van Straaten bygestaan is, het tydens Rekord se besoek ’n halfuur voor die einde van die fees voorgeloop as die gestremde hengelaar wat die meeste vis uitgetrek het.
Johan van Rensburg van die Ekudeni ontspanningsoord naby Muldersdrift, wat oor verskeie damme beskik en ook langs die Krokodilrivier geleë is, was weer op sy pos met ’n groot ingerigte tenk op sy bakkie, waarin al die babers wat gevang is gegooi kon word. Die vis word dan na Ekudeni se damme verplaas om die druk op die Irene Country Lodge se dam te verlig ten opsigte van die baber getalle.
Vrywilliges van die Suid-Afrikaanse Legioen, ’n organisasie vir militêre veterane, was ook weer oudergewoonte op hul pos om met die administrasie en weeg van die vis te help. André La Grange, voorsitter van die Pretoria tak van die SA Legioen, het aan Rekord gesê dat hulle reeds jarelank by Ramcat Fish se hengelfees betrokke is, nadat daar aan die begin van dié fees klem gelê is op deelname van militêre veterane wat tydens hul weermagdae weens beserings in rolstoele beland het.
Gerard (Yster) Smal, wat die stigter en steeds hooforganiseerder van dié gewilde Racmat Hengelfees vir gestremdes is, het aan Rekord gesê dat hulle hierdie agtste aanbieding van die fees as ’n reuse sukses beskou, veral weens die moeilike omstandighede waarin dit plaasgevind het.
Volgens Smal bly die hengelfees enig in sy soort en beskou hulle dit steeds as ’n voorreg om aan die gestremde heneglaars hul eie fees te bied waarop hulle nie net eksklusief kan hengel nie, maar ook sosiaal kan vekeer met mede gestremdes.
Smal het ook al hul borge bedank, waarsonder die Ramcat Hengelfees nie moontlik sal wees nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











