Tuine rugbyklub legende sterf tragies
Een van die groot legendes van klubrugby in Pretoria, wat verlede jaar op 47-jarige ouderdom steeds ‘n aktiewe speler was, is verlede week tragies in ‘n motorongeluk oorlede.
Een van die heel groot legendes van Tuine rugbyklub, Buks Engelbrecht (48), het verlede week tragies in ’n motorongeluk gesterf.
Engelbrecht, wat as tegniese raadgewer vir MCT Telecommunications gewerk het, was op pad terug na Pretoria, nadat hy verlede Vrydag in Ermelo met werksverpligtinge besig was, toe die ongeluk gebeur het.
Hy was ’n Pretorianer in murg en been en het as skoolseun by Hoërskool Zwartkops in Centurion reeds as sportman uitgeblink.
Dié klipharde rugbyspeler het as bloedjong man reeds vir Tuine rugbyklub se eerstespan begin speel en uiteindelik sowat 15 jaar vir dié span as losvoorspeler uitgedraf. Hy het Tuine (later Grizzlies) se eerstes ook vir ses seisoene met groot sukses as kaptein gelei. Die hoogtepunt van sy verbintenis met dié span was toe hulle in 2009 onder sy leiding die Blou Bulle se reserweliga gewen het ná ’n klipharde eindstryd teen Cullinan.
Engelbrecht het ook op hoër vlak verteenwoordigende rugby gespeel toe hy vyf seisoene lank vir die Blou Bulle se span by die Platteland provinsiale toernooi uitgedraf het. Dié span word gekies uit die top spelers in die Blou Bulle se reserweliga klubs en Engelbrecht het die span ook twee jaar as kaptein aangevoer.
Geskokte oud spanmaats, afrigters en administrateurs het die afgelope week hulde gebring aan Engelbrecht. Hy sal algemeen onthou word vir sy klipharde spel op die veld, sy leierskap en sy gewildheid oor die grense van klubs en provinsies.
Een van sy voormalige afrigters by Tuine, Mike Leibrandt, het aan Rekord gesê Engelbrecht was Tuine se ongeslypte diamant en dat hy as speler beslis goed genoeg was om op ’n baie hoër vlak te kon speel.
“Daarby was hy ’n natuurlike leier, wat oral respek afgedwing het,” het Leibrandt gesê.
Hoewel Engelbrecht reeds in sy laat veertigs was, het hy nooit as rugbyspeler uitgetree nie. Hy het die afgelope paar seisoene steeds elke jaar vir die klub se derdespan uitgedraf.
Herman de Witt, was hom vir etlike seisoene afgerig het, beskryf Engelbrecht as ’n ware spanman.
“Hy was die oudste aktiewe speler by die klub en steeds geliefd by almal. Hy was ook familievas en het nie net saam met sy eie seun, Willie, gespeel nie, maar ook jare later in die derdespan saam met sy skoonseun,” het De Witt vertel.
Engelbrecht se seun, Willie, is ’n proffesionele rugbyspeler wat reeds meer as 50 wedstryde vir die Pumas van Nelspruit uitgedraf het. Hy het egter as jong speler saam met sy pa vir Tuine Grizzlies se eerstes gespeel.
Dié gewilde klubrugby legende word oorleef deur sy vrou, Dawn, sy seun, Willie, en sy dogter Stephanie, asook vier kleinkinders.
Hy sal op Vrydag 27 November begrawe word vanuit die Lewende Woord Westerlig, 651 Niemandstraat, Andeon. Die begrafnis begin om 10:00.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


